Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Mpumalanga-belastingbetalers dok R17 miljoen op vir finansiële konsultant

Terwyl die grond vir die voorgestelde kulturele kern in Witrivier nog dolleeg staan, het die departement van sport en kultuur in Mpumalanga reeds meer as R17 miljoen aan ʼn finansiële konsultant vir die projek betaal.

Die rol van die konsultant, wat in Desember 2021 aangestel is, is om ʼn vatbaarheidstudie te doen en om privaat beleggers vir die projek te kry.

Die kulturele kern – wat die belastingbetaler teen 2021 al meer as R172 869 000 gekos het – het ʼn beraamde begroting van R5 miljard. Om hierdie teiken te haal, moet die departement egter eers beleggers kry.

Die VF Plus het die afgelope naweek die eiendom waar die projek beplan word besoek en is met ʼn leë, onkruidbegroeide stuk veld begroet.

Die perseel was inteendeel nog meer vervalle as met die party se vorige oorsigbesoek in 2022.

Luidens antwoorde op vrae aan die LUR, me. Busisiwe Shongwe, het die projek sedert 2011, toe die vorige LUR en oud-premier David Mabuza dit aangekondig het, nog nie nasionale tesourie se goedkeuring ontvang nie.

Hiervoor moes ʼn spesiale raadgewer eers aangestel word. Ná die aanstelling in 2021, en nadat honderde miljoene rand reeds bestee is, is die projek eers goedgekeur.

Dit is duidelik dat die departement lugkastele gebou het wat die belastingbetaler duur kos en tot dusver geen vrugte afgewerp het nie.

Hierdie is nóg ʼn voorbeeld van die ANC se gebrek aan bestuursvermoë en sy verontagsaming van die werklike behoeftes van die provinsie se inwoners.

Mpumalanga verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.