fbpx
Vryheidsfront Plus

Mpumalanga-begrotingsrede: Beloftes bly lippetaal oor voorgesette korrupsie

Die beloftes wat Mpumalanga se LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, me. Nompumelelo Hlophe, in haar begrotingsrede vir die 2024/25-finansiële jaar maak, is net lippetaal.

Dit bly onuitvoerbaar as gevolg van die ANC-regering se gefaalde beleidsrigtings. Dit sluit veral regstellende aksie (RA) in. Die ANC het geen vermoë om korrupsie en wanbestuur in die provinsie hok te slaan nie.

Weens finansiële druk sal die regering sekere toekennings vanuit die totale bedrag van R61.1 miljard moet heroorweeg.

Te veel fondse word nog steeds aan onbenullige en onvoltooide projekte soos die Mpumalanga-internasionale-varsproduktemark – wat jare sloer – bestee.

Die gesondheidsdepartement ontvang ʼn groot deel van die begroting met ʼn bedrag van R18.6 miljard. Dié departement kon met sy vorige begroting nie eens die medisynekaste volhou, genoeg mediese personeel aanstel of ordentlike gesondheidsdienste lewer nie.

Dit is nie soseer weens ʼn gebrek aan fondse nie, maar weens die wanbesteding van fondse. Die VF Plus sal spesifiek hierdie departement fyn dophou om ʼn verdere vermorsing van fondse te probeer voorkom.

Die departement van kultuur en sport is ʼn allemintige R652.4 miljoen toegestaan, maar hierdie departement se wanbestuur is so erg dat honderde miljoene van die belastingbetaler se geld reeds op onbenullige projekte soos die onvoltooide prestasiesentrum en kulturele kern gemors is.

Daar moes eerder meer fondse aan ekonomiese noodsaaklikhede soos infrastruktuurontwikkeling toegewys word sodat ekonomiese groei, werksgeleenthede geskep deur die privaat sektor en die uitroei van armoede bewerkstellig kan word.

Die provinsie het dienslewering nodig, dit benodig die voltooiing van huidige projekte, en bowenal moet hy water vir sy inwoners begin spaar.

Mpumalanga se grootste nywerhede van bosbou, mynbou en landbou, is almal dorstige aktiwiteite.

Veral ou myne bied probleme deurdat dit grondwater besoedel.

Dit beteken dat Mpumalanga sy water moet bewaar en meer damme en nuwe watersuiweringsaanlegte moet bou.

Talle plaaslike munisipaliteite sukkel al geruime tyd om water te voorsien en hierdie krisis gaan net vererger.

Mpumalanga as ʼn provinsie bied dalk vele uitdagings, maar het ook baie potensiaal. Die politieke wil ontbreek egter by die regerende ANC om daardie potensiaal te ontsluit tot voordeel van al sy inwoners.

Mpumalanga verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.