Weens die ANC se nalatigheid word die Moqhaka-plaaslike munisipaliteit (Kroonstad, Renovaal, Steynsrus, Vierfontein, Viljoenskroon) gedwing om sy geskorste munisipale bestuurder, me. Portia Tshabalala, in haar pos te herstel en haar regskostes te betaal.
Dit volg nadat die munisipaliteit versuim het om sy wetlike verpligtinge na te kom om binne drie maande ʼn dissiplinêre ondersoek teen haar af te handel.
Me. Tshabalala is op 9 Mei 2023 vir ’n termyn van vyf jaar aangestel. Op 1 Maart 2024 is sy in kennis gestel van ’n voorneme tot voorlopige skorsing en is sy daarna geskors met volle salaris hangende ’n ondersoek na beweerde finansiële wanbestuur.
Die VF Plus het reeds in Maart 2024 sterk kapsie gemaak teen hierdie besluit, aangesien die voorgeskrewe dissiplinêre prosedures nie nagekom is nie.
Tshabalala se hofsaak het die munisipaliteit miljoene rande gekos in regskostes en vir ʼn tydperk van sestien maande moes ʼn tweede salaris aan ʼn waarnemende munisipale bestuurder betaal word.
Dit terwyl die munisipaliteit reeds met ’n Eskom-skuld van meer as R1,7 miljard worstel en basiese dienslewering feitlik tot stilstand gekom het.
Die VF Plus is van mening dat hierdie geld eerder aan noodsaaklike dienslewering en skuldverligting bestee kon word.
ANC-raadslede wat hierdie proses gesteun het, moet persoonlik aanspreeklik gehou word vir die finansiële skade. Dit is tipiese ANC-nalatigheid, waar die wet as ’n aanbeveling eerder as ’n bindende vereiste beskou word en waar politieke agendas bo regsprosesse gestel word.
Die VF Plus spreek sterk beswaar uit teen hierdie kultuur van strafloosheid en finansiële wanbestuur wat goeie regering ondermyn en plaaslike owerhede in verval dompel.
Die party sal aanhou om op elke moontlike vlak teen hierdie vergrype te veg tot voordeel van elke belastingbetaler in Moqhaka.