Die Moqhaka-plaaslike munisipaliteit, wat Kroonstad, Viljoenskroon, Steynsrus en Vierfontein insluit, beleef sy ergste finansiële krisis nog, het dr. Albe Viljoen, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit, gesê.
Die finansiële krisis moet voor die deur van die munisipale bestuurder, mnr. MS Mqwathi, gelê word omdat dit as gevolg van uiterse swak bestuur op alle vlakke meegebring is. Betalingsooreenkomste wat met Eskom aangegaan is na die pasafgelope elektrisiteitskrisis kan nie nagekom word nie. Daar is net eenvoudig nie genoeg geld om die huidige elektrisiteitsverbruik te betaal nie. Die munisipale bestuurder het verlies aan inkomste uit water die skuld gegee vir die munisipaliteit se finansiële probleem, maar volgens die verslag van die Ouditeur-Generaal was waterverliese slegs R15 miljoen, daarteenoor was elektrisiteitsverliese R55 miljoen vir die 2015/2016 finansiële jaar as gevolg van kabeldiefstal, kragdiefstal uit onwettige koppelings en swak bestuur van debiteure.
Die munisipaliteit het meer as R190 miljoen se ongemagtigde uitgawes aangegaan. Geld wat geoormerk was vir dienslewering en ander doeleindes was dus spandeer op onbeplande uitgawes, waarvoor daar nie begroot is nie.
“Daar is nie geld om na behoorlike dienslewering, soos die herstel van paaie, straatligte, verstopte dreine en stormwaterpype of behoorlike vullisverwydering om te sien nie en tog word ‘n motorvoertuig van nagenoeg R1 miljoen vir die burgemeester aangekoop waarvoor daar nie begroot was nie.
“Artikel 32(2)(b) van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur bepaal dat die munisipale bestuurder ‘n ondersoek met betrekking tot ongemagtigde uitgawes moet gelas. Dit is nie gedoen nie en die VF Plus sal toesien dat die bepalings van die Wet streng nagekom word.
“Die VF Plus sal ‘n strafregtelike klag teen Mqwathi lê vir die oortreding van sekere bepalings van die Munisipale Finansiële Bestuurswet uit hoofde van sy amp as rekeningpligtige amptenaar en druk van alle kante op hom laat uitoefen om die gemeenskap van Moqhaka beter te dien. As hy dit nie kan doen nie, moet hy gaan.
“Ons dorpe is in ‘n skandelike toestand weens wanbestuur en die bestuur se vergrype, dit kan nie so aangaan nie,” het Viljoen bygevoeg.
Kontakbesonderhede: 082 571 5640 / 082 674 6670