Die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) se burgemeesterskomiteelid vir finansies, mnr. Benard Molefe, het gister erken dat baie munisipale rekeninge foutief is.
Hierdie erkenning volg na deurlopende druk van die VF Plus oor die aangeleentheid. Die VF Plus is veral die afgelope paar dae oorval met klagtes van inwoners oor hul buitensporige hoё diensterekeninge.
Molefe het die probleem toegeskryf aan die oorskakeling van konvensionele- na digitale meters. Hy het belowe dat die regstellings teen 28 Februarie afgehandel sal wees.
Een van die ander probleme is dat sommige krag- en waterlesings oor ʼn tydperk van 35 tot 40 dae gelees word waarna inwoners in ʼn hoër tariefblok geplaas word.
Dit is baie onregverdig. Inwoners moet nou meer betaal bloot omdat die lesings nie maandeliks geneem word nie. Die VF Plus sal daarop aandring dat ook dit reggestel word. Daar is ook ʼn agterstand in die verwerking van data.
Inwoners met rekeningprobleme kan ʼn epos aan die hoof van finansies, Binang Monkwe, by Binang.monkwe@mogalecity.gov.za stuur.
Mense word ook genooi om die Mogale City-dienssentrum in Kommissarisstraat in Krugersdorp te besoek. Bykomende personeel is beskikbaar om mense met klagtes te help.
Die VF Plus sal ook die kwessie op die volgende raadsvergadering bespreek om te verseker dat grootskaalse rekeningprobleme nie weer voorkom nie.