Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Vennote in RNE wys tande met uitstel van begroting

Partye in die regering van nasionale eenheid (RNE) soos die VF Plus, het vandag met die begroting gewys dat hulle nie langer geboelie gaan word nie en het voet neergesit oor die voorneme om belasting op toegevoegde waarde (BTW) met twee persent te verhoog.

Die begrotingsrede, wat om twee-uur sou plaasvind, is tot ‘n latere datum uitgestel. Dit is die eerste keer sedert 1994 dat só ingrypende stap geneem word om die begroting uit te stel.

Nadat detail oor die begroting vanoggend aan politieke partye bekend gemaak is, het partye, onder wie die VF Plus, dit duidelik gemaak dat hulle dit nie sou steun nie.

Die voorgenome skok-verhoging van BTW met twee persent sou volgens die VF Plus direkte en sigbare gevolge op Suid-Afrika se ekonomie hê.

Dit is boonop ‘n aanduiding van die omvang van die fiskale krisis waarin die land hom bevind en die party sou ook die wetgewing hieroor ten sterkste in die Nasionale Vergadering (NV) teenstaan.

Die vorige BTW-verhoging het reeds gewys dat BTW nie ‘n gans is wat goue eiers kan optower uit ‘n bankrot ekonomie en verarmde gemeenskap nie. Die realiteit is dat dit die ekonomie verder sal laat stagneer en die ekonomiese krisis vererger.

Daar moet in die begroting eerder gefokus word op onnodige staatsuitgawes, besteding op luukshede en die onvolhoubare salarisrekening van die staat.

Ekonomiese groei is al wat die land kan red en belastingverhogings gaan dit juis kniehalter. Daar moet eerder gefokus word op ‘n beleidsomgewing wat gunstig is vir die privaat sektor om uit te brei en werk te skep.

Beter fiskale dissipline is nodig om die begrotingstekort aan te spreek – eerder as om belasting te verhoog.

Wanneer ‘n regering deur hoër belasting probeer om geld te tap van ‘n publiek waarvan meer as ‘n derde werkloos is en meer as die helfte van sy jeug geen werk of inkomste het nie, kan dit net meer skade as goed veroorsaak.

Om sake te vererger is Amerika besig om sy hulp en geldkrane na Suid-Afrika toe te draai oor rassistiese en drakoniese wette soos die Onteieningswet. Die internasionale gemeenskap en beleggers neem hiervan kennis.

Ekonome deur die bank het die afgelope weke ten sterkste gewaarsku teen ‘n BTW-verhoging. Suid-Afrika se belastingvlakke is buitensporig hoog terwyl maatskappybelasting reeds internasionaal onmededingend is.

Dit raak nou reeds ‘n tendens dat hoë belasting onder gewone Suid-Afrikaners toenemend tot belastingontduiking begin lei. Die VF Plus is bekommerd daaroor dat meer belasting dit net kan laat toeneem.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.