Die VF Plus in Limpopo verwelkom onlangse stappe deur die provinsiale wetgewer teen die voormalige Waterberg-streeksekretaris (ANC), Tolly Mashamaite, wat strafregtelike vervolging in die gesig staar weens korrupsie en bedrog by die Mogalakwena-plaaslike munisipaliteit (Mokopane/Potgietersrus).
Ná ses jaar van volgehoue druk deur die VF Plus in Limpopo het pres. Cyril Ramaphosa in 2021 ‘n proklamasie onderteken wat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) gemagtig het om beweerde korrupsie en wanadministrasie by dié munisipaliteit te ondersoek.
Die provinsiale wetgewer se onlangse besluit om Mashamaite van sy posisie as huisvoorsitter af te gradeer tot ’n gewone lid van die wetgewer totdat die voorverhoor afgehandel is, is vir die VF Plus ’n stap in die regte rigting.
Die korrupsie-aanklagte teen Mashamaite en 28 ander is weens tender-onreëlmatighede en bedrog.
Mogalakwena is sowat R15 miljoen kwyt en gaan al vir jare gebuk onder swak dienslewering, vermorsing en die wanaanwending van openbare fondse.
Saam met Mashamaite staan die voormalige burgemeester van die Mogalakwena-plaaslike munisipdaliteit (Potgietersrus), Andrina Matsemela asook Nkadi Mabusela tereg op strafregtilike aanklagte wat verband hou met 121 aanklagte van korrupsie, 3 van geldwassery en sameswering om korrupsie te pleeg vir die tydperk 2016 tot 2019.
Die beskuldigdes verskyn weer op 7 Oktober in Polokwane se gespesialiseerde handelsmisdaadhof.
Die VF Plus sal verdere stappe noukeurig volg en toesien dat enige verlies wat die munisipaliteit gely het, verhaal word.