fbpx
Vryheidsfront Plus

Mislukte regering verantwoordelik vir werkloosheid

Die toename in werkloosheid in die Vrystaat is duidend van ekonomiese verval, gefaalde beleid en ‘n mislukte regering. Die haglike toestand van munisipaliteite in die Vrystaat, weens algehele wanbestuur, is verantwoordelik vir die verarming wat die Vrystaat beleef. Swak tot geen dienslewering en vervalle infrastruktuur skep ‘n omgewing waarin die privaatsektor nie kan uitbrei en werk skep nie, het Wouter Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer, gesê in reaksie op die nuutste werkloosheid-statistiek.

Werkloosheid in Suid-Afrika is ‘n volskaalse krisis en die ANC-regering se talle werkskeppingsinisiatiewe is ‘n mislukking.

Volgens Statistiek SA het werkloosheid vanaf 26.5% tot 27.7% gedurende die eerste kwartaal van 2017 toegeneem.

Die Vrystaat het die hoogste werkloosheidskoers van alle provinsies met 35.5% (uitgebreide werkloosheidskoers: 41.7%). Die Vrystaat het onder andere 17 000 werke in privaat huishoudings, m.a.w. huishulpe en tuinwerkers, sedert Maart 2016 verloor.

“Dit is duidend op die verarming van die middelklas in die Vrystaat. Die regering se wanbestuur, ondeurdagte besluite en wetgewing en beleid wat werkskepping beperk, vernietig die ekonomie.

“Indien die nuwe nasionale minimumloon volgende jaar, soos beplan word, geïmplementeer word, sal werkloosheid beslis nog meer toe neem. Wetgewing en beleid, soos die nasionale minimumloon, is beperkend veral inaggenome die swak ekonomiese groei en verarming wat Suid-Afrika beleef. Dit gee aanleiding tot afleggings en ‘n toename in meganisasie wat die werkloosheid krisis vererger.

“Werkloosheid neem toe ten spyte van die ANC-regering se besteding van miljarde rande op werkskeppingsprojekte, soos die uitgebreide openbare werke program (EPWP).

“Werkloosheid sal nooit verminder indien die regering nie tot die besef kom dat die staat nie die primêre werkskepper kan wees nie, aangesien dit onvolhoubaar is. Die enigste oplossing vir werkloosheid is ekonomiese groei en beleidsekerheid wat ‘n gunstige omgewing vir die privaatsektor sal bied om werk te skep.

“Die ANC-regering se ideologie wat die basis van hul beleidsraamwerk vorm, is verwyder van die realiteite van Suid-Afrika en vernietig die ekonomie,” het Wessels gesê.

 

Kontakbesonderhede: 082 674 6670

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.