Die ANC-speaker in die Mogale City-stadsraad, Patric Lipudi, het die afgelope Dinsdag raadslede tydens ‘n raadsitting letterlik gyselaar gehou, sê Amanda de Lange, VF Plus-raadslid en voorsitter van die openbare rekeninge-komitee.
Die ANC-speaker het ‘n vooraf beplande mosie van wantroue in die burgemeester ter tafel gelê wat ‘n onsinnige debat van meer as agt ure ontlok het. Die speaker het gepoog om ‘n geslote stemming af te dwing selfs al het die meerderheid raadslede aangedui dat hul die opsteek van hande verkies.
Lipudi neem dikwels besluite teen regulasies en voorskrifte en misluk jammerlik daarin om onpartydig as voorsittende beampte op te tree.
Die raad se geïntegreerde ontwikkelingsplan en begroting wat vanweë tydsraamwerke deur wetgewing teen 31 Mei 2017 afgehandel moes word en as voorkeur items op die raadsagenda moes verskyn, is heel laaste geplaas en die mosie teen die burgemeester het voorkeur geniet.
Dit is duidelik dat die speaker slegs ‘n politieke doelwit, naamlik die val van die koalisie, op sy agenda het en nie die belang van die inwoners in die dorp dien nie.
Volgens De Lange, wat ook die voorsitter van die munisipale openbare rekeninge-komitee is, het die speaker en ANC-raadslede, burgemeester Holenstein openlik beledig in die raadsvergadering.
“Die ongedissiplineerde optrede wat raadsittings ontwrig is ongerymd en spreek van 'n ANC-party en speaker met geen dissipline, integriteit of respek vir die raad as instansie of die amp van uitvoerende burgemeester nie.
“Dit is juis vanweë die ANC se wanbesteding in die vorige termyne dat die Mogale City-raad vandag steier, het De Lange gesê.
In haar toespraak het rdl. De Lange die ANC herinner aan talle voorbeelde van onreëlmatighede onder ANC bewind, waaronder die Bob van Reenen-stadion met miljoene rande se verlies tot gevolg, die implementering van mislukte rekeningsisteme wat die raad en inwoners miljoene rande se verliese gekos het, ‘n plaas in Hekpoort waarop die munisipaliteit ‘n opsie op gehad het vir R6,4 miljoen, maar op ‘n omstrede wyse deur ‘n derde party gekoop is en op dieselfde dag weer aan Mogale City vir R18m verkoop is.
Verder is die eens trotse Krugersdorp Wildtuin tot so ‘n mate geplunder en wanbestuur deur die vorige ANC-beheerde raad dat die sy deure moes sluit.
Onder die koalisie-bewind is daar sedert Augustus 2017 reeds heelwat sukses behaal ten spyte van volgehoue pogings van die ANC om die koalisie te diskrediteer en te saboteer.
“Die veelparty-koalisie sal egter nie 'n tree terugstaan vir die ongeoorloofde taktiek van die ANC nie,” sê De Lange.
Tel: 071 604 9498