fbpx
Vryheidsfront Plus

Mislukte en halfgebakte projekte is remskoen vir Mpumalanga (Debat oor Mpumalanga se provinsiale openingsrede

Mislukte en halfgebakte regeringsprojekte soos die Mpumalanga-varsproduktemark, is ‘n remskoen vir die ekonomie en een van die groot redes vir die agteruitgang van dié provinsie.

Die premier, Refilwe Mtsweni-Tsipane, het in haar provinsiale rede bloot haar vorige beloftes oor werksgeleenthede in die provinsie herhaal sonder om enige konkrete resultate voor te hou.

Nie 'n woord is gerep oor al die onsuksesvolle projekte in die provinsie nie.

Halfvoltooide projekte soos die Mpumalanga se varsproduktemark in Mbombela, Mpumalanga se prestasiesentrum in Belfast/Emakhazeni, die Skywalk-projek in Graskop, Nkomazi se spesiale ekonomiese sone, die Mkhondo-Agrihub, en die parlementêre dorp het die provinsie tot dusver meer as R14 miljard gekos.

Dit is maar 'n druppel aan die emmer van die hoeveelheid plaaslike uitstaande projekte.

Dit was projekte wat volgens die premier bedoel was om werksgeleenthede te skep en toeriste te lok. Dit het egter net weggeneem van die provinsie se ekonomie, nie daarby gevoeg nie.

Solank hierdie projekte stilstaan, word geen werk geskep nie. Die oplossing is om die peperduur konstruksie van een projek af te handel voordat nuwes begin word.

Die premier het wel haar planne vir nog projekte by plaaslike natuurlike toerisme-aantreklikhede voorgelê. Dit is meestal daarop gemik om toeriste te lok.

Die provinsie se vervalle paaie moet eers herstel word en die agteruitgang van natuurlike toeristebestemmings omgeswaai word voordat mensgemaakte konstruksies daar gebou word.

Die Drie Rondawels-besienswaardigheid het nie nou 'n kabelkar nodig om 'n toeristebestemming te word nie; dit is reeds een.

Die paaie daarheen is egter ontoeganklik en toeriste se veiligheid kan nie gewaarborg word nie.

Op papier word ‘n prentjie van sukses en vordering voorgehou. Op grondvlak is die situasie ingrypend anders.

Besoeke as deel van die wetgewer se oorsigrol is van die grootste belang om te sien wat werklik gebeur met die miljoene rande van belastinggeld wat aan die projekte bestee word.

Dit bring ‘n ander realiteit as die haas eindelose voorleggings tydens die provinsiale rede.

Die premier het nodig om behoorlike skakeling op provinsiale vlak te bewerkstellig om sodoende te verhinder dat projekte nie tussen die krake wegraak en ‘n teelaarde vir korrupsie word nie.

Hiervoor is dit belangrik dat verkrygingsprosesse korrek funksioneer, dat wetgewing gehoorsaam word en veral verseker word dat die politieke wil daar is om nodige veranderings teweeg te bring en van projekte ‘n sukses te maak.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.