Die VF Plus het vandag tydens ‘n sitting van die Gautengse wetgewer die premier, Panyaza Lesufi, uitgedaag om president Cyril Ramaphosa te konfronteer oor sy standpunt dat hy as president geen regsplig het om vir Suid-Afrika krag op te wek nie.
Die party het dit in ‘n lidverklaring aan Lesufi gestel dat Ramaphosa oënskynlik sy grondwetlike regsplig om die land tot voordeel van almal te regeer, geabdikeer het.
Volgens die Mail&Guardian het die president dié standpunt ingeneem in 'n beantwoordende beëdigde verklaring in 'n grondwetlike hofsaak wat ‘n groep organisasies en politieke partye oor beurtkrag teen die regering bring.
Die president het blykbaar verder verklaar dat die enigste grondwetlike regsplig om krag op te wek en te versprei by plaaslike regering (munisipaliteite) lê.
Die VF Plus dink die president fouteer in sy argument en het verwys na ‘n gedeelte van die Grondwet se aanhef met die volgende doelwit: “Die lewensgehalte van alle burgers te verhoog en die potensiaal van elke mens te ontsluit.”
Hierdie oorhoofse doelwitte kan nie gerealiseer word sonder genoegsame kragopwekking en -verspreiding nie en plaas 'n algemene regsplig op die president en die kabinet.
Die VF Plus het die uitdaging aan Lesufi gerig teen die agtergrond dat hy self planne het om sonkrag in Gauteng op te wek en te versprei.
Indien slegs plaaslike regerings 'n regsplig en reg het om krag te verskaf, sal die provinsiale regering ook geen sodanige reg hê nie en mag die opwekkingsplanne op wankelrige regsgronde staan.
Gevolglik moet Lesufi ook vasstel of sy kragplanne wel grondwetlik is.
Indien Lesufi sou verskil van die president, moet hy die president daaroor konfronteer of die abdikering van die president aanvaar en sy provinsiale kragplanne versaak.
Die ANC kan nie uit twee monde praat nie.
Óf die ANC aanvaar sy verantwoordelikheid om krag op al drie vlakke van regering op te wek en te versprei, of die ANC moet bedank as 'n regering wat nie wil regeer nie.