Die VF Plus dring daarop aan dat die minister vir handel, nywerheid en mededinging, Ebrahim Patel, meer verantwoordbaar moet wees deur gereeld voor die parlement se portefeuljekomitee vir handel en nywerheid te verskyn. Die minister het sedert die instelling van die inperkingsregulasies nog slegs een maal voor die komitee verskyn en was vandag afwesig omdat hy glo ongesteld is.
Patel speel ‘n sleutelrol in die regering se nasionale bevelsraad en die uitvaardiging van regulasies wat die land se ekonomie onafwendbaar beïnvloed. Die minister se oorreaksie rakende inperkingsregulasies en sy mikrobestuur van die Suid-Afrikaanse handel, het onherstelbare skade aan die ekonomie aangerig wat gaan lei tot grootskaalse werkloosheid en hongersnood.
Die VF Plus dring daarop aan dat die talle irrasionele regulasies wat handel beperk, onmiddellik opgehef word om die land se ekonomie te stimuleer.
Kontaknommers: 082 466 3786 / 062 391 1804