Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Bathabile Dlamini, het haar skuldig gemaak aan minagting van die hof. Sy moet daarvoor aangekla word en behoort summier afgedank word, sê dr. Corné Mulder, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sosiale ontwikkeling.
Dr. Mulder het met die parlementêre debat oor die Sassa-debakel gesê die optrede van die ANC en die wyse waarop sy lede die debat ontwrig het, herinner aan wat met die aanvang van die Nkandla-sage gebeur het en dui op diepliggende probleme in die party aangesien hy weer die onverdedigbare probeer verdedig.
“Die minister het vandag hier kom sê daar is geen krisis by Sassa nie. Tog sê haar segspersoon oor regsake vandag ‘somtyds as die situasie buite beheer is word dit vertraag’. Die situasie in die minister se department is inderdaad buite beheer en sy is klaarblyklik nie daarvan bewus nie.
“Die minister mis die kernpunt van die aangeleentheid wanneer sy sê die toelae sal op 1 April uitbetaal word.
“Die land se Grondwet stel dit duidelik dat ‘n minister gerig moet word deur die Grondwet in die uitvoering van hul pligte. Maar daar is blykbaar ministers in die regering wat dink hul poste is bloot seremonieel.
“Dit is nie so nie. Ministers is die politieke hoofde van departemente. Hullle is verantwoordelik vir hul departemente se funksionering. Hierin het minister Dlamini gefaal.
“Die minister het die Grondwethof geminag, en sy moet daarvoor aangekla word. Die hof het drie jaar gelede bevind dat die kontrak met CPS ongeldig is. Sy het niks daaraan gedoen nie.
“Sy was so behep met die interne politiek van die ANC in haar poging om president van die ANC-vroueliga te word dat sy Suid-Afrika se mense in die steek gelaat het. Daarvooor behoort sy afgedank te word,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403