Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Milnerton-strandmeer: Oorbevolking en swak ruimtelike beplanning bedreig Kaapstad se toekoms

Die Milnerton-strandmeer en die Woodbridge-eiland by Kaapstad is in ‘n skokkende toestand en dui op die wesenlike probleme van oorbevolking en ‘n gebrek aan ruimtelike beplanning wat van Kaapstad ‘n tweede Johannesburg gaan maak indien nie vinnig opgetree word nie.

Dit is duidelik dat ongebreidelde instroming van buite die provinsie na Kaapstad plaasvind en dat daar oënskynlik niks gedoen word om dit te keer of om te beplan vir groeiende behoeftes van die mense nie.

Die Stad Kaapstad het self in ‘n verslag van 2023 die probleem erken deur te sê dat 55% van “alle nuwe wonings” in Kaapstad oor 20 jaar informele strukture sal wees.

Die verslag meld voorts dat informele nedersettings om Kaapstad tussen Maart 2016 en Junie 2020 met meer as 60 000 strukture gegroei het.

‘n Rit deur die stadsgebied wys boonop dat die probleem sedert Junie 2020 baie vinnig toegeneem het. Dit is duidelik dat die Stad weet van die probleem, maar nie veel daaraan doen nie.

Die VF Plus het die naweek ‘n oorsigbesoek aan die Milnerton-gebied gebring ná ‘n gemeenskapsvergadering met bekommerde inwoners wat hulle sterk uitgespreek het oor die toestand van die gebied.

By die strandmeer self is ‘n sterk reuk van verval terwyl talle kinders in die duidelik besoedelde water speel.

Daar is onvoldoende kennisgewingborde om die publiek oor die gevare van besoedeling te waarsku. Dit stel die publiek se gesondheid in gevaar en die VF Plus sal dit dringend aanspreek.

Informele nedersettings hou geensins tred met die vinnige instroming nie en dit veroorsaak ‘n natuurlik oorspoeling na gevestigde woongebiede wat reeds onder druk verkeer weens normale verstedeliking.

Die Stad Kaapstad se ruimtelike beplanningstrategie, wat oënskynlik gedryf word deur politieke agendas, asook ‘n gebrek aan optrede teen instroming, is ʼn resep vir ‘n ramp.

Wat Milnerton aanbetref, wys geprojekteerde tydslyne vir oplossings vir die strandmeer se besoedeling wat strek tot 2028 en verder, dat die stad nie voldoende toegerus is om die toenemende druk op sy stelsels te hanteer nie.

Oorbevolking, gekoppel aan verouderde infrastruktuur, gekombineer met swak beplande ontwikkeling, dreig om die stelsels wat dit onderhou, in duie te laat stort.

Dit is presies hierdie oorsake wat reeds gelei het tot die grootskaalse rioolbesoedeling van Kaapstad se strande.

Die VF Plus is daartoe verbind om beleid te bevorder wat die omgewing beskerm, lewensomstandighede verbeter en ’n volhoubare toekoms vir alle inwoners verseker.

Daar moet nou opgetree word. Kaapstad kan nie tot 2028 of 2030 wag om hierdie kritieke kwessies aan te spreek nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.