Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Met laaste stuiptrekkings wil ANC steeds geld mors met onnodige naamsveranderinge

Terwyl die land in duie stort onder die ANC en mense daagliks sonder krag en water sit, is die regering ná dertig jaar aan bewind steeds ywerig besig met naamsveranderinge.

Dit grens aan die absurde dat ʼn mislukte regering met sy laaste stuiptrekkings steeds geld mors op naamsveranderinge sonder enige noodsaak, doel of betekenis. Dit word bloot verander. En alles met ʼn naam is in die visier. Van dorpe en strate tot berge en nedersettings.

In die jongste veranderings wat onlangs in die Staatskoerant aangekondig is, verander Ladysmith in KwaZulu-Natal na uMnambithi, William Nicolrylaan in Johannesburg na Winnie Mandelarylaan en Kirkwood in die Oos-Kaap na Nqweba.

Talle ander veranderings in die Oos-Kaap is ook op die kaarte soos Graaff-Reinet na Robert Mangaliso Sobukwe, Adendorp na Kwa Mseki Bishop Limba, Aberdeen na Camdeboo en Nieu Bethesda na Kwa Noheleni.

Hierdie is duidelike desperate spronge in ʼn wanhopige poging tot populisme soos die onlangse aanhitsing by Lourierpark in Bloemfontein om grond te beset om stemme te probeer werf vir die komende verkiesing.

Die ANC het dertig jaar gehad om mense op die regte manier te beïndruk deur goeie regering en dienslewering. Die teenoorgestelde het gebeur.

Of ʼn naamsverandering mense wat sonder krag of water tussen lopende riool woon gaan beïnvloed oor hul besluit vir wie om te stem, is nie so seker nie.

Dit bly ʼn raaisel hoe die ANC dit regkry om al die verkeerde dinge so knap te beplan en soomloos uit te voer terwyl hy bloot nie in staat is om die regte dinge met die grootste moeite en al die beskikbare geld te doen nie.

Suid-Afrika kan nie meer sinnelose naamsveranderinge bekostig nie. Hy kan ook nie meer die ANC bekostig nie. Die enkele verandering wat wel gebiedend noodsaaklik is, is ʼn regeringsverandering.

Daardie geleentheid doen hom voor op 29 Mei hierdie jaar. Die tyd om te herstel en te bou het aangebreek.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.