Inwoners van die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) word nou gestraf vir die munisipaliteit se wanbetaling aan Randwater.
Merafong skuld Randwater R1,2 miljard en dié waterverskaffer het besluit om die krane na die munisipaliteit gedeeltelik toe te draai.
In ʼn volblad-advertensie, wat op 1 April in ʼn plaaslike koerant verskyn het, het Randwater die munisipaliteit gewaarsku van sy voorneme om die munisipaliteit se water met 20% te verminder.
Die munisipaliteit het nie dadelik op Randwater se dreigement gereageer nie waarna Randwater Maandag die daad by die woord gevoeg het.
Merafong, wat finansieel in die knyp is, kon ʼn skamele R8 miljoen bymekaar skraap om aan Randwater te betaal.
Die VF Plus het die munisipale bestuurder, Dumisani Mabusa, geskakel en versoek om dadelik ʼn nuwe ooreenkoms met Randwater aan te gaan en ook inwoners dienooreenkomstig in te lig.
In ʼn openbare kennisgewing het die munisipale bestuurder aangedui dat die munisipaliteit wel ʼn nuwe ooreenkoms met Randwater aangegaan het, maar Randwater hou steeds die volle waterverskaffing terug.
Intussen is watertrokke na gemeenskappe ontplooi.
Die munisipaliteit het te lank geneem om die probleem aan te spreek en nou betaal inwoners die prys.
Dit is onaanvaarbaar dat mense wat getrou hul waterrekening vereffen, weens die munisipaliteit se wanbestuur en wanaanwending van belastinggeld met droë krane sit.
Dit is tyd om van die ANC ontslae te raak.


