Daar is geen werklike gevolge vir waterbesoedelaars in Gauteng nie wat ‘n kultuur van strafloosheid kweek en omgewingsregulasies ondoeltreffend maak.
Die VF Plus het hom vandag sterk uitgespreek teen die departement van omgewingsake wat nie daadwerklik optree teen besoedeling vir die behoud van waterbronne in die provinsie nie.
Munisipaliteite en nywerhede besoedel meedoënloos die skaars waterbronne wat ʼn nasionale prioriteit is, met skynbaar geen gevolge nie. Hierdie situasie, tesame met ‘n gebrek aan provinsiale wetgewing om die krisis aan te spreek, bedreig die provinsie se bestaan.
Ontwikkeling gaan voort sonder voldoende omgewingstudies, wat die natuur en bye (bestuiwers) doodmaak wat noodsaaklik is vir die ekosisteem.
Die VF Plus is van mening dat die ignorering van omgewingsverval uiteindelik lei tot ‘n onvolhoubare bestaan, wat die lewenskwaliteit vir huidige en toekomstige geslagte in gevaar stel.
Die balans en harmonie tussen menslike ontwikkeling en die natuur is nie opsioneel nie, maar noodsaaklik vir oorlewing.
Gauteng het dringende optrede nodig om besoedeling te stop en die omgewing te beskerm.


