Na volgehoue druk van die VF Plus, het die Mangaung-metro-munisipaliteit (Bloemfontein, Dewetsdorp, Soutpan, Van Stadensrus en Wepener) uiteindelik die nodige herstelwerk gedoen aan die groot rioollekkasie by die Memoriam-begraafplaas.
Weens die afwesigheid van toesig en instandhouding, het vullissakke en rioolwater in ‘n stormwaterkanaal beland wat deur die begraafplaas loop. Hierdie vullis- en rioolbesoedelde water vloei uit in ‘n natuurlike spruit en uiteindelik na die Mockesdam, waarna dit vir menslike gebruik gesuiwer word.
Dié rioolbesoedeling aangrensend aan die begraafplaas het so erg geraak dat nabygeleë grafte in die grond weggesak het.
Die VF Plus het Saterdag, 8 Mei, die stadsbestuurder, adv. Tankiso Mea, sowel as die betrokke departementshoof vergesel na die plek waar die probleem is. Mea het onmiddellik opdrag gegee dat herstelwerk gedoen moet word.
Herstelwerk het reeds Saterdagmiddag begin en is teen Maandagoggend voltooi.
Die VF Plus staan op vir beter dienslewering. Staan saam met die VF Plus in die komende plaaslike regeringsverkiesing en veg vir jou regte.