fbpx
Vryheidsfront Plus

Mediumtermynbegrotingsraamwerk wys finaal ANC het Suid-Afrika tot bankrotskap regeer

Vandag se mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) het onderstreep dat die ANC Suid-Afrika tot bankrotskap regeer het.

Staatskuld is ʼn wegholtrein, munisipaliteite en staatsondernemings se skuldlas raak onhoudbaar en die staat se salarisrekening is totaal buite beheer weens die druk van vakbonde en ʼn opgeblase staatsdiens.

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het vandag weereens nie die onvolhoubare salarisrekening effektief aangespreek nie.

Daar is eerder toegewings gemaak deur ʼn gee-en-neem-situasie teenoor diensleweringsprioriteite om die aangepaste hoër salarisverhogings te bekostig.

Dit terwyl menige amptenare nie bydra tot dienslewering nie en steeds baie hoër as markverwante salarisse verdien.

Staatskuld beloop R5 000 miljard en beslaan nou 75% van die land se totale BBP. Die finansieringskoste hiervan is R354 miljard. Dit is meer as die jaarlikse begroting vir die polisie, die onderwys of gesondheid.

Die omvang van die staat se skuldprobleem word ten beste geïllustreer deur die feit dat vir elke R5 belasting wat geïn word, R1 gaan aan die finansiering van die skuld.

Verdere slegte nuus is dat die begroting vir water en sanitasie besnoei word met R881 miljoen terwyl die land reeds gebuk gaan onder erge watertekorte en vervalle infrastruktuur.

Beurtkrag knou boonop enige hoop op ekonomiese groei. Tesame met die ANC se onbevoegdheid en verknogtheid aan ʼn skadelike ideologiese beleid, is daar geen vooruitsig op beterskap nie. Die BBP-groei vir 2023 is afwaarts aangepas tot 0.8%.

ANC-beleid laat ook toe dat die staat uitgebuit word en baie meer vir produkte en dienste betaal as wat nodig is.

Korrupsie en bedrog is steeds endemies aan die ANC en die staat verloor miljarde as gevolg daarvan terwyl die regering faal om dit te stop en oortreders aanspreeklik te hou.

Werklike en drastiese koste-besnoeiing is nodig om geld te bespaar. Enkele voorbeelde van onnodige uitgawes is die beskermingsdienste en oorsese reise vir hoofsaaklik die uitvoerende gesag.

Slegs ekonomiese groei kan werkloosheid en armoede aanspreek, maar dit kan slegs bereik word deur strukturele hervorming en beleid wat ʼn gunstige omgewing vir beleggings skep.

Tans is daar nie genoeg fondse om die land se infrastruktuur te herstel en te ontwikkel nie.

Nogtans sal geen ekonomiese plan of ingryping enigiets aan hierdie sombere situasie verander nie. Solank as wat die ANC regeer, is dit onomkeerbaar.

Net die stembus kan Suid-Afrika van totale ineenstorting red.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.