Die pasaangestelde onderburgemeester van die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) gaan inwoners byna R1 miljoen per jaar uit die sak jaag.
Mogomotsi Sello is vandag tydens ʼn spesiale raadsvergadering as onderburgemeester aangewys.
Hy sal die pligte van die burgemeester, Nozuko Best, uitvoer wanneer sy nie beskikbaar is nie.
Die VF Plus het geweier om deel te wees van die verkiesing.
Die party het reeds op die raadsvergadering van 27 September, waartydens die onderburgemeesterspos bespreek en goedgekeur is, sy teenstand hierteen uitgespreek.
Die ANC-beheerde munisipaliteit het net eenvoudig nie die finansies om bykans R1 miljoen per jaar af te staan aan ʼn salaris vir ʼn onderburgemeester nie.
Die munisipaliteit is tegnies bankrot en lewer minimale dienste aan sy inwoners.
Inwoners kla daagliks op sosiale media oor kragonderbrekings wat dae duur, min of geen vullisverwydering, watertekorte, slaggate, die sakegebied wat besaai is met vullis en meer.
Die salaris van die onderburgemeester kan eerder aangewend word om dienslewering te verbeter.
Hierdie is ʼn tipiese voorbeeld van die ANC wat poste vir sy kaders skep ten koste van getroue belastingbetalers.
Net omdat die Munisipale Strukturewet voorsiening maak vir die pos van ʼn onderburgemeester beteken nie dat Merafong een moet aanstel nie.
Merafong verdien beter as die ANC.


