Die buitengewoon groot eise weens mediese nalatigheid in Gauteng is ʼn klinkklare bewys van die swak gesondheidsorgstelsel in dié provinsie.
Daar is reeds R18 miljard se onafgehandelde eise teen die Gautengse departement van gesondheid ingestel sedert 2007.
In die eerste kwartaal van die 2023/24-finansiële jaar is tien eise ingestel vir ʼn bedrag van R98 miljoen.
Die departement moes ʼn bedrag van R435 miljoen in die tweede kwartaal van die huidige finansiële jaar vir 54 eise uitbetaal nadat daar uitspraak gelewer is teen die departement.
Daar is ook ʼn verdere 36 eise ingestel ten bedrae van R483 miljoen.
Die meeste eise is ingedien teen die Chris Hani Baragwanath-hospitaal. Dit behels agt eise van R114 miljoen.
Tweede was die Mogoerane-hospitaal met vier eise van R89 miljoen gevolg deur die Leratong-hospitaal met vier eise van R79 miljoen.
Die meeste eise is teen die ginekologie-afdeling van hospitale ingedien (R337 miljoen), gevolg deur die afdelings vir chirurgie (R97 miljoen) en algemene verpleging (R48 miljoen).
Die VF Plus waarsku al jare teen die mislukking van die openbare gesondheidsorgstelsel in Gauteng wat tot buitensporige mediese nalatige eise lei.
Die departement erken self daar is ʼn tekort aan dokters, verpleegsters, funksionele teaters, lewensnoodsaaklike toerusting, medisyne en meer.
Intussen is die departement vasgevang in duur hofsake en is nie bereid om buite die hof te skik nie.
Hierdie dien ook as onomstootlike bewys dat die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gedoem is tot mislukking. Onder die NGV sal eise vir mediese nalatigheid hand oor hand toeneem.
Die VF Plus moedig mense aan om die party se petisie teen die NGV te steun by die volgende skakel: https://www.vfplus.org.za/af/petisies/nee-aan-die-nhi/
Die enigste oplossing vir die huidige swak openbare gesondheidsorg in Gauteng en om die NGV van die tafel te vee, is om van die ANC ontslae te raak en te vervang met ʼn bevoegde en verantwoordbare koalisieregering waarvan die VF Plus deel is.
Saam kan ons Gauteng herstel en bou.