fbpx
Vryheidsfront Plus

Gauteng-provinsie gryp in by Rand West-munisipaliteit

Die VF Plus neem kennis van die Gauteng-provinsie se aanstelling van ‘n senior raadgewer om die Rand West City-plaaslike munisipaliteit (Randfontein, Westonaria) uit sy finansiële verknorsing te help.

Die party hoop dié persoon sal opgewasse wees vir die reuse taak om Rand West van totale verval te red.

Die taak voorhande gaan met talle uitdagings gepaard soos die munisipaliteit se uitstaande skuld aan Eskom en Randwater.

Rand West het aan die einde van Oktober R932 miljoen aan Eskom geskuld waarvan die nasionale tesourie R831 miljoen as skuldverligting goedgekeur het.

ʼn Bedrag van R277 miljoen sal teen einde Maart 2024 afgeskryf word indien die munisipaliteit voldoen aan die voorwaardes daaraan verbonde.

Die uitstaande Randwater-rekening beloop R483 miljoen.

Die ANC-beheerde raad het ook ʼn onbefondsde begroting vir die 2023/24-finansiële jaar goedgekeur. Buiten dat dit onwettig is, het dit ʼn enorme impak op dienslewering aan inwoners.

Die huidige invorderingskoers van 83% vir munisipale diensterekening sal ook aangespreek moet word.

Tans is die invorderingskoers vir informele nedersettings in Rand West net 54%. Talle wanbetalers in dié gebiede se dienste word selde indien ooit opgeskort.

Daar sal ook drasties teen amptenare en politici opgetree moet word wat belastingbetalersgeld wanaanwend of steel.

Dit is egter te betwyfel of die ANC oor die politieke wil beskik om dit te doen.

Die VF Plus moedig kiesers van Rand West aan om te registreer en te gaan stem om die Gautengse ANC-regering te vervang met ʼn bevoegde en verantwoordbare koalisieregering waarvan die VF Plus deel is.

Die tyd vir doen is nou. Saam kan ons Gauteng herstel en bou.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.