Die VF Plus is gekant teen die Mbombela-plaaslike munisipaliteit se voorneme om straatname in Nelspruit, Witrivier, Hazyview en Barberton te verander ten spyte daarvan dat hy in die skuld swem.
Tydens 'n vergadering vir belanghebbendes verlede maand is dit aan opposisiepartye bevestig dat die munisipaliteit meer as R700 miljoen aan Eskom skuld. Die VF Plus het ook vasgestel dat daar meer as R80 miljoen aan die munisipaliteit vir water geskuld word wat op swak inkomste-invordering dui.
Die toestand van die munisipaliteit se paaie boesem nie vertroue in nie. Die munisipaliteit kan nie eers bekostig om sy eie verkeersbeamptes met patrollievoertuie op die pad te hou nie.
Daar is bewyse dat die departement van water en sanitasie wanbestuur word. Een van die bewyse is die langdurige probleme met die lewering van water. Dit het Witrivier en omliggende gebiede nou vir ‘n derde keer beïnvloed.
Die gebrek aan basiese dienste is so erg dat inwoners in Umjindini/Barberton (een van vele dorpe) basies in menslike ontlasting leef aangesien riool deur opritte vloei.
Naamsveranderinge kos miljoene en die munisipaliteit is nie in die finansiële posisie om geld te mors terwyl die munisipaliteit ooglopend wanbestuur word nie.
Geen gemeenskap wat onder wanbestuur ly kan veranderings aan straatname goedpraat terwyl dienslewering gebrekkig is nie.
Die volgende strate se name is vir verandering geoormerk:
Dorp Straatnaam
Mbombela/Nelspruit
Piet Retiefstraat
Besterstraat
Andersonstraat
Brownstraat
Ferreirastraat
Henshallstraat
Ou Pretoriaweg
Voortrekkerstraat
Witrivier Danie Joubertstraat
Theo Kleynhansstraat
Hazyview R40-hoofweg
Tarentaalstraat
Stormvoëlstraat
Barberton Krugerstraat
Die VF Plus sal hierdie beplande naamsveranderinge op elke wyse moontlik teenstaan.