fbpx
Vryheidsfront Plus

JB Marks loop risiko om weer onder administrasie geplaas te word weens gesloer met goedkeur van begroting

Die JB Marks-plaaslike munisipaliteit wat Potchefstroom en Ventersdorp bedien, loop die risiko om ná 1 Julie weer deur die provinsiale regering onder administrasie geplaas te word weens ‘n gesloer om ‘n begroting vir goedkeuring voor die munisipale raad te laat dien.

Volgens die toepaslike munisipale wetgewing moes ‘n konsepbegroting op die laatste teen 31 Mei voor die raad gedien het.

Dit is die derde opeenvolgende jaar dat die ANC-beheerde munisipaliteit nie by die wetlik voorgeskrewe tydlyne vir die begrotingsproses hou nie.

Hierdie tipe optrede en laksheid het in die verlede tot groot ontwrigting in munisipale dienslewering gelei en die provinsiale regering volgens wetgewing genoop om die munisipaliteit onder administrasie te plaas.

Die plasing van munisipaliteite onder die beheer van administrateurs het in die verlede gewys dat dit ondoeltreffend is en in sommige gevalle bloot nuwe inkomstestrome vir korrupsie skep.

Dit ondermyn ook die rol van munisipale rade en die beginsel van verantwoordbare regering omdat die aangestelde administrateurs skynbaar slegs aan hulself verantwoordbaar is.

Die VF Plus het gister ‘n dringende skrywe gerig aan die burgemeester, Gaba Ka Qhele, en die speaker, Moithoesi Dassie, en geëis dat ‘n konsepbegroting dringend tydens ‘n spesiale raadsvergadering vir oorweging voor die munisipale raad dien.

Indien ‘n begroting nie voor die nuwe finansiële jaar wat op 1 Julie ‘n aanvang neem goedgekeur is nie, vereis die wet dat die raad ontbind en ‘n administrateur aangestel word.

Die VF Plus, die provinsiale tesourie en andere het reeds groot gebreke uitgewys in ‘n vroeëre konsepbegroting wat vir konsultasie ter tafel gelê is.

Die VF Plus en die tesourie het daarop gewys dat die voorgestelde begroting onvolhoubaar is en dat die aangeduide geprojekteerde inkomste vir die munisipaliteit heeltemal onrealisties is.

Die provinsiale tesourie het dit reeds onomwonde gestel dat die vroeëre voorgestelde begroting onbefonds sal wees en dat die munisipaliteit die ooglopende gebreke moet aanspreek voordat die begroting vir goedkeuring voor die raad dien.

Die VF Plus het ook tydens die vroeëre konsultasieproses beklemtoon dat daar weer te veel begroot is vir kontrakteurs, oftewel tenderpreneurs, en dat die voorgestelde begroting weereens tekort skiet wat die onderhoud van noodsaaklike infrastruktuur aanbetref.

Die optrede van die ANC-beheerde munisipaliteit wek die indruk dat hy die begrotingsproses probeer manipuleer deur die begroting op die nipper voor die raad te laat dien om sy eie begrotingsagendas en die belange van hul kaders te dien.

Die VF Plus sal aanhou om alle moontlike geregtelike remedies toe te pas om te verseker dat JB Marks se munisipale begroting behoorlik oorweeg word vir goedkeuring en te stry teen enige pogings van die ANC om die proses tot voordeel van kaderbelange te manipuleer.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.