Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Matlosana: Toesmeer van enorme onreëlmatige besteding duur voort

Die VF Plus het in Junie vanjaar ‘n aansoek kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) op Noordwes se provinsiale tesourie gedien om ‘n afskrif van ‘n forensiese verslag oor onreëlmatige besteding van R1,8 miljard in die Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein) te bekom.

'n Opsomming van die bevindings van ‘n ondersoek deur Open Water Advanced Risk Solutions het reeds in September 2016 voor die munisipale raad gedien.

Die VF Plus het reeds verskeie versoeke tot die munisipaliteit gerig om die finale verslag bekend te maak.

Die verslag toon onder meer aan dat grootskaalse ongerymdhede gelei het tot onreëlmatige besteding van R1,8 miljard in die munisipaliteit.

Noordwes se departement van finansies het die maatskappy in 2015 aangestel om finansiële ongerymdhede in die Matlosana-munisipaliteit te ondersoek.

Daar is sedertdien ‘n sluier van geheimhouding oor die verslag getrek met die munisipaliteit wat in April teenoor die VF Plus ontken het dat hy in besit van die finale verslag is.

Sedert 2016 is ook geen vervolgings ingestel teen enige persoon wat vir die ongerymdhede verantwoordelik was nie.

Die munisipaliteit het aangevoer dat die provinsiale tesourie die eienaar van die verslag is omdat hy die forensiese ondersoeker aangestel het.

In die jongste verwikkeling gister, het die provinsiale tesourie die VF Plus se Paia-aansoek afgekeur en voer aan dat die inhoud van die volledige verslag soos aangevra, geprivilegeerde inligting is.

Geen verdere rede of toeligting vir die besluit is verskaf nie.

Die VF Plus sal appèl aanteken teen hierdie beslissing om seker te maak die feite word aan die lig gebring.

Dit is ‘n skande dat Noordwes se provinsiale regering skynbaar meedoen aan die toesmeer van enorme ongerymdhede met belastinggeld terwyl die provinsie se inwoners ly onder swak tot geen dienslewering.

Die provinsiale tesourie het in die afgelope ses jaar duidelik geen poging aangewend om enige vervolging teen die skuldiges in te stel nie, ten spyte van sy wetlike verpligting en die omvattende inligting tot sy beskikking.

Dit is ironies dat die bedrag ter sprake in hierdie skandaal bykans gelykstaande is aan die sowat R2 miljard wat die munisipaliteit tans vir krag en water skuld.

Eskom het juis pas ‘n hofbevel vir die beslaglegging van die munisipaliteit se bankrekenings laat bekragtig om Matlosana se kragskuld van R1,1 miljard te verhaal.

Hierdie aangeleentheid belig opnuut die vlak van diepgewortelde korrupsie en wanbestuur in regeringsinstellings waar die ANC aan bewind is.

Kaderbelange word skynbaar bó alles beskerm, ongeag die omvang van die skade wat hulle aan die land en sy inwoners aanrig met hul optrede.

Suid-Afrika verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.