Die VF Plus veroordeel die voortslepende ontwrigting en geweld wat die inwoners van Lichtenburg sedert Maandag teister nadat strydende ANC-faksies die dorp in chaos gedompel het.
Die ANC se interne politieke gevegte in die Ditsobotla-plaaslike munisipaliteit (Lichtenburg, Coligny en Bakerville) het lank reeds ‘n verlammende effek op dienslewering in die gebied.
Hierdie week se gebeure het egter ‘n nuwe, gevaarliker dimensie aangeneem. Tydens die eerste botsing tussen die faksies die afgelope Maandag is daar selfs skote in die dorp se sakekern afgevuur en is een sekuriteitswag van die munisipaliteit noodlottig gewond.
Die geweld het skynbaar opgevlam weens ‘n hofuitspraak verlede Vrydag waarin bevind is dat mnr. Tsietsie Shema onwettig deur die burgemeester, Moabi Thebeyagae, as munisipale bestuurder aangestel is en die pos moet ontruim.
Shema en Thebeyagae se ondersteuners het Maandag na die munisipaliteit in die middedorp opgeruk om die regmatig aangestelde me. Josephine Ledwaba te verhinder om haar rol as munisipale bestuurder te vervul.
Van basiese dienslewering in die munisipaliteit is daar tans geen sprake nie en inwoners en munisipale werknemers leef in vrees vir die ongekende vlak van geweld in hul gemeenskap. Dít alles weens ANC -faksies en hul stryd om toegang tot die munisipaliteit se hulpbronne en finansies.
Die VF Plus het deurlopend sedert Maandag met Noordwes se LUR vir samewerkende regering, tradisionele sake en behuising (Cogsta), me. Lena Miga, sowel as die provinsiale polisie-owerhede geskakel en geëis dat die situasie in bedwang gebring word.
Dit is ‘n skande dat die regerende ANC in só ‘n staat van hebsug verval het dat sy interne stryd om toegang tot gemeenskapsgeld en -bates selfs tot lewensverlies en bloedvergieting lei.
Die inwoners van Noordwes verdien beter as die ANC.


