Die ANC-beheerde Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein) is op sy knieë weens ʼn ANC-kleptokrasie waar korrupsie en bedrog hoogty vier.
Die munisipaliteit staar bankrotskap in die gesig nadat Eskom beslag gelê het op sy bedryfsbankrekening by Absa asook vier ander beleggingsrekeninge om uitstaande skuld van sowat R1,2 miljard te verhaal.
Die munisipale raad is vandag in kennis gestel dat Eskom in April beheer oor die rekeninge geneem het en reeds R89 miljoen daaruit onttrek het.
Van hierdie geld is afkomstig van die nasionale regering in die vorm van toelaes wat vir bepaalde diensleweringsprojekte geoormerk is.
Eskom se optrede volg nadat hy reeds in Desember 2020 ʼn beslagleggings-hofbevel bekom het om beheer oor die rekeninge te neem.
Pogings van Matlosana om teen die bevel te appelleer het misluk en dit is weer op 23 Maart hierdie jaar deur die hof bekragtig.
Die munisipaliteit wend nou desperate pogings aan om die nasionale tesourie te betrek om ʼn hofbevel teen Eskom te bekom oor die beslaglegging van die bankrekeninge.
Terselfdertyd is die tesourie in Mei ook versoek om ʼn reddingsboei na Matlosana te gooi om die Eskom-skuld te delg.
Die feit is egter dat die munisipaliteit reeds by herhaling afbetalingsooreenkomste met Eskom verbreek het.
Die VF Plus het oor jare deurlopend uitgewys dat die situasie op ʼn krisis afstuur en dringende stappe geneem moet word om Matlosana se finansiële volhoubaarheid te herstel.
Die munisipale raad het reeds in Julie verlede jaar eenparig ʼn VF Plus-mosie gesteun dat daar dringend ʼn volhoubare finansiële herstelplan ingestel moet word.
Die VF Plus gaan ʼn dringende versoek hieroor rig tot Noordwes se LUR vir samewerkende regering, tradisionele sake en behuising (Cogsta), Nono Moloi.
Sy sal versoek word om ʼn omvattende ondersoek te doen na die verdwene R1,2 miljard wat van inwoners ingesamel is en nooit aan Eskom oorbetaal is nie.
Dit is noodsaaklik dat diegene verantwoordelik vir hierdie selfgeskepte ramp tot verantwoording geroep word.
Dit is ʼn skande dat een van die ekonomiese spilpunte in Noordwes homself in só ʼn situasie bevind.
Die inwoners van Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein moet nou die wrange vrugte pluk van jarelange ANC-korrupsie, wanbestuur en kaderontplooiing.
Die inwoners van Noordwes verdien beter as die ANC.