Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Matjhabeng: ANC gebruik beleggingsberade as rookskerm vir wanbestuur

Die vyfde sogenaamde beleggingsberaad wat tans in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom) aangebied word, is bloot duur ANC-politiekery onder die dekmantel van ekonomiese groei.

Sedert 2022 het die burgemeester, Thanduxolo Khalipha, reeds vyf sulke berade gehou met beloftes van miljarde rande se beleggings, maar nie een van hierdie projekte het ooit gerealiseer nie.

By die vorige beraad is beweer dat R55 miljard se beleggings beloof is en nou word nog R100 miljard beloof. Intussen val die dorpe uitmekaar en is daar geen basiese dienslewering nie.

Matjhabeng is onder artikel 139-administrasie, sit met R7,9 miljard skuld aan Vaal Sentraal Water en R7,5 miljard skuld aan Eskom terwyl inwoners sonder water en tussen riool en vullis leef. Werkers staak, strate is onbegaanbaar en die munisipaliteit kan nie eens sy eie infrastruktuur onderhou nie, maar vind steeds geld vir luukse konferensies, kos en versierings.

Die ANC in Matjhabeng tree soos ’n politieke mafia op – ’n klein groepie kaders wat skynprojekte gebruik om geld te laat vloei sonder enige werklike opbrengs vir die gemeenskap.

Hierdie berade is niks anders nie as ’n verkiesingsfoefie om steun te werf.

Die VF Plus het reeds ’n skrywe aan Khalipha gerig waarin volledige openbaarmaking van die koste van al vyf berade versoek word, asook die werklike beleggings en inkomste wat daaruit voortgevloei het.

Matjhabeng se inwoners het nie nóg ’n beraad nodig nie – hulle het water, werk en goeie bestuur nodig.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.