Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus wil in belang van Suid-Afrika help om plan oor landbou weer op dreef te kry

Dit is van die grootste belang van almal in Suid-Afrika om die landboubedryf in Suid-Afrika optimaal te laat funksioneer en die VF Plus is daarom bereid om gesprekke te fasiliteer om die jarelange geskille oor die meesterplan vir landbou en landbouverwerking (AAMP) op te los.

‘n Analise van die geskilpunte en gesprekke met al die rolspelers binne en buite die proses, buiten die vakbonde, toon veel groter ooreenstemming in beginsels en beleid as wat die afgelope drie jaar se skaakmatsituasie regverdig.

Die AAMP is ‘n regeringsinisiatief wat in 2022 aanvaar is om die landbou- en verwerkingssektor te laat groei en te transformeer. Dit behels ‘n raamwerk van strategieë en doelwitte wat al die rolspelers moet aanvaar om probleme in die sektor aan te spreek en die bedryf se potensiaal te ontsluit.

Die ondertekenaars van die plan, en veral die departement van landbou en die Nasionale Landboubemarkingsraad, kan nie wegkom van die feit dat hul proses in terme van inklusiewe deelname gebrekkig was nie. Dit het verskeie sleutelspelers in landbou-, werkgewer-, verbruikers-, en bedryfsorganisasies uitgesluit.

Minister John Steenhuisen moet dit bloot erken en regstel. Hy hoef nie daarvoor aandadig te voel nie, want dit het onder die ampstermyn van sy voorganger, Thoko Didiza, gebeur.

Daar is geen regverdiging vir die moeite wat gedoen is om die vakbonde aan boord te hou teenoor die blatante ignorering van belangrike organisasies wat uitgesluit was nie.

Daar behoort ‘n oudit gedoen te word van plaaswerkers se verteenwoordiging deur vakbonde. Dit maak nie sin om so ‘n groot gewag te maak van strukture wat nie werklik verteenwoordigende steun in die landbousektor het nie.

Die DA het Saai en TLU SA se standpunt oor die tekortkominge in die meesterplan nog in 2022 en 2023 in die parlement gesteun.

Min. Steenhuysen het in ‘n RSG-onderhoud op 8 Oktober 2025 erken dat daar gebreke in die meesterplan is, en dat winsgewendheid en volhoubaarheid belangrik is in ‘n nasionale landbouplan.

Agri-SA en die Landbousakekamer van Suid-Afrika (Agbiz) is beide op rekord dat hulle nie ‘n dominante plek vir die winsgewendheid en volhoubaarheid van plase in ‘n meesterplan sal teenstaan nie.

Die VF Plus hou sedert die bekendstelling van die plan ook vol dat transformasie nie belangriker as volhoubaarheid kan wees nie.

Die tragiese mislukking van die Landbounavorsingsraad (LNR) om ons boere deur die bek-en-klouseerkrisis met genoeg doeltreffende entstowwe by te staan, is ‘n bewys daarvan.

Die wildbedryf is aanvanklik by die landboumeesterplan ingesluit, en later onverklaarbaar en sonder enige kommunikasie daaroor uitgesluit deur die departement van landbou en die ondertekenaars.

Die DA het, soos die VF Plus, die insluiting van die wildbedryf ondersteun, want in Suid Afrika word wild nie net aangehou nie, dit is ‘n boerdery.

Minister Steenhuisen het dit by Huntex 2025 weer bevestig en selfs aangekondig dat hy die wildbedryf uit omgewingsake na sy departement geskuif het.

Nie een van die ondertekenaars van die meesterplan het in die openbaar besware teen die insluiting van die wildbedryf geopper nie. Die onverklaarbare en geheimsinnige verwydering van die teks oor wildboerdery behoort dus nie in die pad van konsensus oor die meesterplan te staan nie.

Suid-Afrika kan ook nie bekostig dat ‘n magspel tussen ministers en kleinlike binnegevegte in politieke partye ‘n sektorale meesterplan gyselaar hou nie.

Indien die staat, die departement van landbou en staatsondernemings soos die Nasionale Landboubemarkingsraad of enige van die ondertekenaars van die AAMP die vermoë gehad het om die geskille oor die plan op te los, sou hulle dit al gedoen het.

Daar is egter nou meer verdeeldheid daaroor as wat daar voor die totstandkoming van die regering van nasionale eenheid (RNE) was.

Boere is ʼn belangrike deel van die VF Plus se steunbasis. In die party se landboubeleid en in debatte in die parlement, vra ons altyd wat in die beste belang van die boere sal wees.

Daarom is dit vir die VF Plus ‘n prioriteit om die landboumeesterplan op ‘n stewiger fondasie te vestig waar die volhoubaarheid en winsgewendheid van plase en landbou-ondernemings voorop gestel word.

Die VF Plus glo hy kan in die belang van almal in Suid-Afrika al die rolspelers in landbou om ‘n tafel kry om die verskille op ‘n deursigtige wyse uit te stryk. Daarom bied ons aan om dit te doen.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.