Die VF Plus het Donderdag 'n voorstel by die provinsiale wetgewer ingedien om aasvoëlbedreigings in die Nasionale Krugerwildtuin en omliggende natuurreservate in die Bosbokrand-plaaslike munisipaliteit dringend aan te spreek.
Meer as 'n honderd aasvoëls en 'n hiëna het einde verlede week gevrek nadat hulle aan 'n vergiftigde buffelkarkas naby Punda Maria in die Krugerwildtuin gevreet het.
Wat die situasie vererger, is dat dit broeiseisoen is en kuikens sal nie sonder hul ouers oorleef nie.
Hierdie vergiftiging kom gereeld voor en kan grootliks bydra om verskeie spesies Afrika-aasvoëls uit te wis.
Indien die provinsiale regering aanhou om die situasie in plaaslike natuurreservate (die Krugerwildtuin, Manyeleti-wildreservaat, Sabi Sands-wildreservaat en Bosbokrand-natuurreservaat) te ignoreer, kan dit lei tot 'n ekologiese ramp.
Aasvoëls word boonop deur tradisionele genesers in medisyne gebruik en die prys vir een wissel glo van R300 tot R1500.
Daar word beraam dat die vereniging van tradisionele gesondheidspraktisyns in die Bosbokrand-plaaslike munisipaliteit 400 tot 800 aasvoëls per jaar doodmaak.
Die VF Plus se voorstel vereis 'n versterkte beleid wat insluit 'n opvoedingsveldtog vir die plaaslike inwoners om bewustheid van aasvoëls en hul belangrike rol in die ekosisteem te beklemtoon.
Daar moet ook aanhoudings-teelprogramme in gestel word vir die herstel van spesies in gebiede waar hulle plaaslik uitgewis word.
Aasvoëls is 'n sambreelspesie in die ekosisteem. Indien die aasvoëlbedreiging aangespreek word, sal ander wild ook veiliger in die ekosisteem wees.
Die VF Plus het gevra dat befondsing beskikbaar gestel word om bogenoemde ingrypings in werking te stel.