Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, se stilswye oor die rassistiese behandeling van 'n bruin ouer deur 'n swart onderwyser by die Fred Norman Hoërskool dien as verdere bewys van sy vooroordeel.
Indien 'n wit Afrikaanse onderwyser die oortreder was, sou Lesufi onmiddellik die menseregtekommissie (MRK) ingekry het en baie ferm stappe geneem het, soos in die geval met die Hoërskool Jan Viljoen.
Volgens berigte in die Sowetan (17 Augustus 2022) het 'n swart onderwyser by die hoërskool 'n bruin ouer in Engels toegesnou dat sy nie van Kleurlinge hou nie nie en dat hulle ongeskikte mense is.
Die voorval is op video vasgelê. Daar is geen twyfel dat hierdie uitsprake van die swart onderwyser teenoor die bruin ouer rassisties van aard is nie.
Die bewysmateriaal in die vorm van die video laat ook min ruimte vir twyfel.
Tog het Lesufi, gegewe die eenvoud van die saak en bewyse beskikbaar wat hy moes gesien het, nie een keer na die voorval as rassisties verwys nie en bloot 'n gewone departementele ondersoek aangevra.
By Jan Viljoen het hy, voordat die ondersoek begin het, 'n wit leerder en sy familie skuldig geag.
Hy het selfs die wit Afrikaanse leerder se naam in die openbaar genoem en een van sy familielede betrek.
Dit is gedoen sonder om te wag vir die ondersoek en uitslag van die MRK.
Die gesin moes gevolglik al hul kinders uit die skool neem en selfs uit Randfontein trek om hulself te beskerm teen viktimisering en dreigemente.
Die VF Plus het namens die gesin 'n volledige verslag oor die ware gebeure aan die MRK verskaf. Volgens die getuienis was daar geen sprake van rassisme nie, maar wel 'n gebrek aan die toepassing van skooldissipline wat tot die voorval gelei het.
Oor die jongste voorval het Lesufi bloot gereageer dat die saak ondersoek sal word sonder vooraf uitsprake of beskuldiging.
Die VF Plus gaan hierdie dubbele standaarde ook by die MRK aanmeld.
Lesufi is duidelik nie geskik om as LUR vir onderwys op te tree nie en nog minder as voorgenome Gautengse premierskandidaat vir die 2024-verkiesing. Hy sal Gauteng die afgrond inlei.
Die VF Plus het 'n amptelike "Stop Lesufi"-veldtog begin om te keer dat die ANC ooit weer beheer neem van die Gauteng-provinsie.
Die toekoms is in 'n koalisie van redelike opposisiepartye waarvan die VF Plus deel sal wees.