Die VF Plus het die Masilonyana-plaaslike munisipaliteit (Theunissen, Brandfort, Verkeerdevlei en Winburg) se begroting vir 2020/2021 nie gesteun nie.
Ten spyte van talle versoeke dat tariewe nie verhoog word nie, is die begroting met 4.5% tariefverhogings deur die bank aanvaar. Gegewe die huidige ekonomiese situasie sou die VF Plus eerder wou sien dat tariewe vir die 2020/2021-boekjaar dieselfde as die vorige jaar bly om inwoners van die munisipaliteit tegemoet te kom.
Die munisipaliteit ervaar alreeds enorme kontantvloeiprobleme en met 'n huidige invorderingskoers van sowat 30% gaan die munisipaliteit wondere moet verrig om die finansiële situasie te beredder in ag genome die gevolge van Covid-19..
‘n Groot deel van die debiteureskuld is oninbaar en moet afgeskryf word. Alhoewel die debiteure die munisipaliteit se balansstaat positief laat vertoon, beteken dit niks vir die finansiële gesondheid van die munisipaliteit indien dit nie ingevorder word nie. Ten spyte van herhaalde versoeke aan die finanskomitee is daar steeds nie voorsiening gemaak vir slegte skuld nie.
Die VF Plus het met die tertafellegging van die begrotin beswaar aangeteken teen die voorgestelde grondbelastingstarief. Die raad het gevolglik besluit om hierdie tarief aan te pas, maar geen regstelling is in die begroting aangebring nie. Deur nie die nodige aanpassings in die verwagte inkomste te wys nie, is in effek ‘n wanvoorstelling van die werklike verwagte inkomste.
Navrae: 083 272 8664