Inwoners van die Masilonyana-plaaslike-munisipaliteit (Brandfort, Soutpan, Theunissen, Verkeerdevlei, Winburg) mag nie deur wanbetaling aan Eskom geraak word nie.
Die VF Plus eis dat die Vrystaatse LUR vir finansies, Gadija Brown sowel as die LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta), Thembeni Nxangisa, oplossings vind om die betalingsooreenkoms met Eskom na te kom sodat inwoners nie deur die voorgestelde elektrisiteitsbeperking geraak word nie.
Ingevolge 'n kennisgewing van Eskom sal inwoners vanaf 15 Julie 2020 daagliks nie krag hê tussen 06:00 en 20:00 nie.
Die munisipaliteit tree onverantwoordelik op om nie sy skuld soos per die goedgekeurde betalingsooreenkoms te vereffen nie.
Daarteenoor moet Eskom egter ook verseker dat munisipale skuld nie eers enorme bedrae beloop voordat sulke drastiese stappe geneem word nie.
Die Vrystaatse regering, wat tot onlangs moes verseker dat die munisipaliteit se benarde situasie tydens Masilonyana se Artikel 139-ingryping moes verbeter, moet nou dringend oplossings implementeer en verseker dat inwoners nie 'n donker winter ervaar nie.
Die VF Plus sal die situasie monitor en aanhou om die ANC in die Vrystaat vir sy swak finansiële bestuur tot verantwoording te roep.
Navrae: 076 629 6219