Die opeenhoping van boomstompe en ander natuurlike materiaal aan die keerwal in die Wilgerivier by Frankfort in die Mafube-plaaslike munisipaliteit (Frankfort, Tweeling, Villiers en Cornelia), mag grootskaalse watertekorte vir inwoners inhou indien daar nie nóú instandhouding plaasvind nie.
Die munisipaliteit word grootliks van water voorsien deur water wat vrylik oor die keerwal loop, waarna dit deur middel van waterpompe na watersuiweringsaanlegte gepomp word. Die opeenhoping van rivierafval aan die keerwal veroorsaak dat water met geweldige druk deur die keerwal spuit, wat die verbrokkeling van die bestaande infrastruktuur veroorsaak.
Sou hierdie keerwal as gevolg van waterdruk verkrummel, sal water direk verby Mafube in die Vaalrivier inloop. Instandhouding van die keerwal is dus nóú nodig om volgehoue watertoevoer na die munisipaliteit te verseker.
Inwoners van hierdie munisipaliteit is reeds ontneem van enige vorm van dienslewering. Die ANC-regering kan nie wag tot daar ‘n waterkrisis in die munisipaliteit ontstaan en dan krisisbestuur toepas om die situasie te probeer beredder nie.
Die VF Plus het ‘n skrywe aan die administrateur van Mafube, Moses Moremi, gerig om spoedige ingryping en instandhouding te versoek.
Die VF Plus sal aanhou om volgehoue druk op amptenare te plaas om sluimerende krisisse vroegtydig hok te slaan.
Navrae: 079 517 8059