Die VF Plus neem met kommer kennis daarvan dat Marokko volgens die jongste bevindings van die Afrika-Ontwikkelingsbank Suid-Afrika in 2025 verbygesteek het as die grootste geïndustrialiseerde ekonomie in Afrika.
Hoewel Suid-Afrika steeds ’n belangrike nywerheidsmagsentrum op die vasteland is, bevestig hierdie ontwikkeling die voortgesette afname in die land se industriële mededingendheid.
Jarelange onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening, staatskorrupsie, beleidsonsekerheid, oorrregulering en swak ekonomiese bestuur het die land se aantrekkingskrag as beleggingsbestemming ernstig geknou en ekonomiese groei gedemp.
Die VF Plus waarsku die minister van handel, nywerheid en mededinging reeds jare lank teen die gevaar van de-industrialisering. Die verlies aan vervaardigingsvermoë beteken minder beleggings, minder werksgeleenthede en toenemende ekonomiese stagnering.
Suid-Afrika benodig dringend ’n politieke koersverandering met ’n regering wat ekonomiese groei op gesonde vryemarkbeginsels bevorder, ondernemersvertroue herstel en beleggings aanmoedig. Die land beskik oor buitengewone potensiaal, maar dit kan slegs ontsluit word deur beleid wat groei, mededingendheid en private inisiatief ondersteun.
Die VF Plus se republikeinse waardes van afwenteling van mag, sterker gemeenskapsekonomieё en vryemark-ekonomiese beginsels bied ’n geloofwaardige pad na stabiliteit, werkskepping en hernieude vertroue in Suid-Afrika se ekonomiese toekoms.


