Die Farlam-kommissie se aanbeveling dat pres. Jacob Zuma aksie moet neem om ondersoek te doen na die geskiktheid van die nasionale kommissaris van polisie, genl. Riah Phiyega, noodsaak dat Phiyega dadelik moet bedank, sê dr Pieter Groenewald (LP), hoofwoordvoerder van Polisie vir die Vryheidsfront Plus.
Dr. Groenewald sê die kommissie bevind in wese dat Phiyega nie geskik is vir die pos nie en pres. Zuma is medeverantwoordelik hiervoor aangesien die nasionale kommissaris in terme van die Grondwet [art. 207(1)] deur die president aangestel word.
“Die Vryheidsfront Plus het elke keer beswaar gemaak as ’n nasionale kommissaris van polisie aangestel word wat nie uit die polisiekorps self kom nie. Daarom moet Phiyeaga bedank en Zuma moet ’n kommissaris aanstel wat ’n ervare en kundige polisielid is.
“Al die aanbevelings van die Farlam-kommissie word verwelkom en dit is duidelik dat daar ernstige gebreke bestaan in die opleiding van die polisie, veral wat skarebeheer aanbetref, maar veral ook in die topbestuur van die polisie.
“Die tyd het aangebreek dat weggedoen word met politieke aanstellings in die polisie waar vaardigheid en kundigheid benodig word,” het dr. Groenewald gesê.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403