Gauteng se LUR vir onderwys, Payazi Lesufi se minagting van die Grondwet en sy boelie-agtige intimidasie van Afrikaanse skole kan nie langer geduld word nie, en dit het tyd geraak dat hy self uit sy pos verwyder word, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor basiese onderwys.
Adv. Alberts sê net soos die ANC-regering die land se Grondwet minag, so steur Lesufi, hom ook nie aan die Grondwet, amptelike prosedures of administratiewe geregtigheid nie en is hy besig om Afrikaanse skole in die provinsie op ‘n onwettige en onaanvaarbare wyse te intimideer.
Volgens adv. Alberts is dit skreiend dat Lesufi die private skool Curro Roodeplaat nou dreig met ‘n ‘laaste kans’ voor sluiting oor ‘n voorval wat volgens swart ouers self niks met rassisme te make gehad het nie.
Hy sê Lesufi behoort te weet dat hy self ook onderhewig is aan die reg en prosedures en dat hy die skool ‘n geleentheid moes gee om sy saak te stel voordat hy ‘n besluit kon neem.
“Dit is eerder Lesufi self wat moet besef dat sy kanse min raak. Dié intimidasie en boelie-taktiek is tekenend van die ANC wat net lippediens bewys aan die Grondwet, maar hulself nie daaraan gebonde ag nie.
“Sy gewaande ontevredenheid oor die skool net wit onderwysers het, is ook misplaas. Daar is baie skole wat net swart onderwysers het terwyl daar in baie gevalle jong wit onderwysers is wat nie werk kry nie en bereid sal wees om in swart skole te werk.
“Curro se provinsiale hoof en die Roodeplaat-skoolhoof gaan nou vervang word. Hul loopbane gaan ingrypend geraak word sonder enige werklike rede.
“Dit is optrede soos hierdie wat doelbewus en onnodiglik rassewrywing skep waar dit nie bestaan nie. Suid-Afrika het genoeg probleme soos dit is. Daar is nie nog plek vir politieke boewery nie,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403