fbpx
Vryheidsfront Plus

Mangaung se begroting is onrealisties

Die Mangaung-metromunisipaliteit verkeer onder geweldige finansiële druk en word deur Nasionale Tesourie as onvolhoubaar beskou. Die Mangaung-metromunisipaliteit se voorgestelde begroting en geïntegreerde ontwikkelingsplan skets ‘n baie mooi prentjie, maar die praktiese uitvoerbaarheid en die metro se geskiedenis van gefaalde implementering en wanbestuur laat veel te wense na, het Devar Smit, VF Plus-raadslid in die metro vandag gedurende ‘n debat oor die munisipaliteit se voorgestelde begroting gesê.

Die verhoging van elektrisiteitstariewe is nie in lyn met die NERSA-goedgekeurde 1.8% nie en is dus onaanvaarbaar. Die voorgestelde verhogings van tariewe en heffings sal ‘n onbekostigbare las op die reeds vuisvoos betalende verbruiker plaas en nie die metro uit sy finansiële krisis red nie. Hierdie verhogings sal lei tot betalende inwoners wat dit nie meer sal kan bekostig om te betaal nie en so sal die reeds benarde invorderingskoers van die metro slegs verswak.

“Hoe kan nuwe infrastruktuur gebou word as bestaande infrastruktuur nie in stand gehou word nie?” het Smit gevra.

Dit is die VF Plus se mening dat daar te min begroot is vir die instandhouding en opgradering van die watervoorsienings- en rioleringsnetwerke van die metro, terwyl astronomiese bedrae elders bestee word.

“Die munisipaliteit behoort sterker klem te lê op die invordering van debiteure en die beperking van water- en elektrisiteitsverliese. Die verhoging van tariewe is nie die oplossing nie.

“Die VF Plus kan nie ‘n begroting ondersteun wat voorsiening maak vir luukse uitgawes terwyl die infrastruktuur- en diensleweringsnood in die munisipaliteit so agterweë gelaat word en die vuisvoos verbruiker daarvoor moet opdok nie,” het Smit gesê.

Smit het ook sy kommer uitgespreek oor die feit dat die metro se geïntegreerde ontwikkelingsplan wat om ontwikkeling en die opheffing van die gemeenskap van Mangaung gesentreer is nie vaartbelyn genoeg met die begroting is nie. Van die doelwitte in die ontwikkelingsplan is al sedert 2006 op die agenda, hierdie planne het nog nooit gerealiseer nie en die VF Plus doen ‘n ernstige beroep op die munisipaliteit om toe te sien dat dit nie gedurende hierdie termyn weer gebeur nie.

 

Kontakbesonderhede: 084 206 3375

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.