Die Bloemfonteinse hooggeregshof het die aansoek van drie ANC-raadslede om 'n interdik te bekom om die vergadering te keer waar 'n nuwe burgemeester van die Mangaung-metro-munisipaliteit verkies sal word, met koste van die hand gewys.
Die VF Plus verwelkom hierdie uitspraak. Dit is duidelik dat daar 'n faksie binne die ANC is wat bang is dat hul ANC-kollegas in die raad nie volgens die opdrag van die ANC-gesagstrukture sal stem om me. Olly Mlamleli te herkies as burgemeester nie. Daarom die poging om hierdie raadsvergadering te keer.
Die applikante het versuim om die politieke partye verteenwoordig in die metroraad tot die aansoek te voeg, alhoewel daar ‘n wesenlike belang bestaan.
Die applikante wil ook 'n hersieningsaansoek bring om die vergadering waar daar oor die VF Plus se mosie van wantroue in die uitvoerende burgemeester gestem is, onwettig te verklaar. Dié ANC-raadslede voer aan dat dit onwettig was om die fisieke raadsvergadering te hou waar die geheime stemming oor die mosie plaasgevind het.
Volgens die VF Plus is daar geen rede om aan te voer dat dié vergadering onwettig was nie.
Die VF Plus het die geslaagde mosie van wantroue in goeie trou gebring en die Speaker, Mxolisi Siyonzana, het volgens die grendelstaatregulasies, sowel as die staande reëls en ordes, korrek opgetree. Die rampbestuursregulasies maak wel voorsiening vir raadsvergaderings om fisiek belê te mag word.
Ware demokrasie het dus geseëvier.
Dit sal betreurenswaardig wees indien die ANC nie nou van die geleentheid gebruik maak om 'n meer verantwoordbare uitvoerende burgemeester te verkies nie. Die VF Plus sal voortgaan om in belang van die gemeenskap van Mangaung op te tree.
Navrae: 082 674 6670