Die aggressiewe en onwettige Karino-grondbesettings in Mpumalanga het groot internasionale aandag gewek.
WhatsApp-boodskappe vanuit Australië en Engeland het na Suid-Afrika gestroom ter ondersteuning van die grondeienaar en sy vrou wat hul eiendom teen aggressiewe en onwettige grondbesettings wou beskerm.
In 'n video wat deur die grondeienaar opgeneem is, word 'n beweerde ANC-lid van die naburige kwaNyamazane, 'n landelike gebied in Mpumalanga, as die voorbok gesien. Hy het onder meer
die boer gewaarsku om nie by hul sake in te meng nie en dat slegs ‘n hofbevel hulle van hul planne sou laat afsien.
‘n Ander video toon hoe gewapende indringers standplase vir hulself afbaken. Die eienaar is weereens gewaarsku dat sy huis afgebrand sou word indien hy sou inmeng.
Die jongste beeldmateriaal is van die beseerde boer wie se bene oopgesny is 'n dag nadat die oortreders hom gedreig het.
Die polisie was van geen hulp nie, omdat betrokke lede geweier het om die grondeienaar toe te laat om ‘n klag van oortreding en intimidasie teen die indringers aanhangig te maak.
Die vraag is waarom die polisie traag was om te reageer en of die betrokkenheid van 'n ANC-lid iets daarmee te doen het.
Hierdie gebrek aan optrede dwing die boer om eers 'n hofbevel teen die indringers te kry voordat die polisie sal optree.
Dié lakse optrede van die polisie is in stryd met die wet, omdat die polisie veronderstel is om onmiddellik op te tree indien besettings binne ‘n bepaalde tydperk aangemeld word.
Die VF Plus sal vrae vra aan die premier van Mpumalanga, Refilwe Mtsweni-Tsipane en die LUR vir veiligheid en sekuriteit, Gabisile Tshabalala, om te eis dat opgetree word voordat grondbesettings tot onherstelbare skade aan eiendom, beserings en dood lei.
Lt.genl. Bethuel Zuma, provinsiale kommissaris van die polisie, moet ook gevra word om die bewerings te ondersoek dat die polisie geweld en dreigemente toegelaat en toegekyk het terwyl die besetting en aanranding plaasgevind het.
Navrae: 084 652 9164 / 076 687 2830