Die algehele agteruitgang en jammerlike toestand van munisipale infrastruktuur in die Mangaung-metro-munisipaliteit kan gedeeltelik toegeskryf word aan 'n infrastruktuur-komitee wat nie funksioneer nie.
Dit is van kardinale belang dat hierdie komitee op ‘n gereelde basis vergader en planne beraam om bestaande en nuwe infrastruktuur te bestuur en te ontwikkel. Sedert Mei 2019 is geen vergadering belê nie en is raadslede se oorsigrol hul feitlik ontneem.
Inwoners van Dewetsdorp is gereeld sonder water as gevolg van jarelange gesloer met infrastruktuurontwikkeling en uitbreiding. Die bestaande reservoir op die dorp kan nie aan inwoners se daaglikse behoeftes voorsien nie en ‘n nuwe reservoir ter waarde van sowat R22 miljoen is gevolglik opgerig. Hierdie nuwe reservoir is reeds in 2016 voltooi, alhoewel dit nie ‘n enkele dag sedertdien gebruik is nie.
Miljoene liter vars water gaan ook daagliks verlore weens waterlekkasies wat veroorsaak word deur gebrekkige instandhouding en verouderde infrastruktuur.
In die 2018/19-finansiële jaar het die metro reeds sowat R186 miljoen se waterverliese getoon en indien daar nie dringend ingegryp word nie, sal die probleem net vergroot.
Munisipale paaie word nie onderhou nie en gebrekkige rioolinfrastruktuur veroorsaak grootskaalse besoedeling van nabygeleë waterbronne en grondwater.
Die VF Plus het in ‘n skriftelike vraag die redes rondom die wanfunksionaliteit van die komitee aangevra en dring daarop aan dat vergaderings so gou en so gereeld moontlik belê word.
Mangaung-inwoners verdien ‘n plaaslike regering wat infrastruktuur prioritiseer en welstand van inwoners eerste plaas, waartoe die ANC nie in staat is nie.
Navrae: 064 847 1560