Tydens vandag se parlementêre vraag-en-antwoord-sessie het die adjunk-president, David Mabuza, erken dat die Maluti-a-Phofung-plaaslike munisipaliteit (Harrismith, Kestell, Phuthaditjhaba) voortydig onder Artikel 139-administrasie verwyder is, wat as bewys dien dat die Vrystaatse regering effektiewelik op Vrystaatse munisipaliteite opgegee het.
Mabuza het op ‘n vraag van die VF Plus oor die opskorting van die Art. 139-administrasie gereageer. Hy het toegegee dat die munisipaliteit steeds nie sy verpligtinge teenoor sy inwoners nakom nie.
Die probleme in Maluti-a-Phofung is diepgewortel in wanadministrasie, swak bestuur, korrupsie en bedrog en sal nie oornag opgelos kan word nie. Nóg ‘n taakspan, soos deur die adj.- pres. voorgestel, sal nie hierdie munisipaliteit uit sy benarde situasie red nie.
In die Maluti-a-Phofung-munisipale raad bestaan geen verantwoordbare politieke leierskap nie en word munisipale probleme toenemend vererger omdat die ANC-regering nie daartoe in staat is om op provinsiale óf nasionale vlak leiding te gee en in te gryp nie.
Die VF Plus volstaan by sy voorstel dat hierdie munisipale raad moet ontbind en dat munisipale afbakening hersien moet word om kleiner, meer volhoubare munisipale eenhede daar te stel.
Dit is onaanvaarbaar dat die Vrystaatse regering se Art. 139-intervensies geen vrugte afwerp nie en dat hierdie intervensies sonder enige goeie rede gestaak word.
Betalende inwoners ontvang geen waarde vir geld nie en die adj.-pres. se vae verskoning teenoor dié inwoners dra geen waarde as daar nie op grondvlak verligting gebring word nie.