“Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV), oortree die parlementêre eed met sy aanmoediging van onwettige grondbesetting in Suid-Afrika. As lid van die Nasionale Vergadering (LP) het hy die eed afgelê wat bepaal: “Ek, sweer/verklaar ….. dat ek die Grondwet en die ander reg van die Republiek sal gehoorsaam, eerbiedig en onderhou;”. Malema se aanhitsing en oproep by die EVV se kongres in Bloemfontein van grondgryp toon dat hy nie die Grondwet of enige ander reg in Suid-Afrika gehoorsaam, eerbiedig of onderhou nie,” sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor landbou en grondsake.
“Onwettige grondbesetting, of te wel, grondgryp-aksies vind op verskeie plekke in die land onder leiding van die EVV plaas. Dit is duidelik dat uitvoering aan Malema se oproep gegee word. ‘n LP as lid van die hoogste wetgewende gesag (parlement) kan nie skynheilig die eed aflê, en daarna wetsongehoorsaamheid aanhits nie. In elk van hierdie grondgryp-aksies, soos by Sasolburg, moet Malema as medepligtige aangekla word, aangesien hy dit aangehits het.
“Daar sal streng opgetree moet word teen Malema en die EVV anders gaan die grondgrype handuit ruk wat eiendomsreg in Suid-Afrika verder ernstig gaan bedreig. Wanneer die EVV sukses bereik met die onwettige besetting van onbesette grond, sal plase beslis die volgende doelwit word van besetting. Dit sal ook voedselsekerheid bedreig,” sê Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397