Die Mafube-plaaslike munisipaliteit, wat Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling insluit is deur die Vrystaatse provinsiale regering onder administrasie geplaas, aldus Jan Oost, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit.
Mafube is as gevolg van jarelange swak bestuur in ‘n benarde finansiële posisie. Die munisipaliteit sukkel al ‘n geruime tyd om selfs die mees basiese dienste aan die gemeenskap te lewer, asook om sy salarisrekening, wat bykans 60% van sy totale begroting in beslag neem, te betaal.
Wouter Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer het egter gewaarsku dat provinsiale ingryping nie ‘n towerstaf is wat al die munisipaliteit se probleme sal oplos nie. Dit sal slegs slaag as die politieke wil bestaan om daadwerklike bestuursmaatreëls in plek te stel, om van onbevoegde amptenare ontslae te raak, korrupsie hok te slaan en behoorlike finansiële bestuur toe te pas.
Oost sê die LUR vir Samewerkende Regering, me. Sisi Ntombela, het hierdie aankondiging gister tydens ‘n spesiale vergadering gemaak. Die administrasie word ingevolge artikel 139(1)(b) van die Grondwet gedoen en behels kortliks dat die provinsiale regering ingryp in die bestuur van die munisipaliteit ten einde te verseker dat dit aan nasionale of ten minste vasgestelde minimum standaarde voldoen en om volhoubare ekonomiese eenheid te bewerkstellig.
“Vir ‘n munisipaliteit om onder grondwetlike administrasie geplaas te word is ‘n skande vir die regerende party en ‘n aanduiding dat hulle nie daartoe in staat is om die gemeenskap van Mafube te dien nie,” het Wessels gesê.
Kontakbesonderhede: 082 674 6670 / 079 517 8059