Die VF Plus in Gauteng is tevrede met die opdrag van die LUR van openbare vervoer en padinfrastruktuur, Jacob Mamabolo, aan lisensiekantore om vanaf eerskomende Maandag 70% van hul besprekings en kapasiteit aan die hernuwing van bestuurslisensies toe te ken om so die huidige agterstand uit die weg te ruim.
Die party is egter bekommerd oor die uitvoering van die plan omdat lisensiekantore in Gauteng nie net gemoeid is met die hernuwing van bestuurderslisensies nie. Hulle staan ook ‘n groot deel van hul kapasiteit af aan die hernuwing van voertuiglisensies, toetsing van leerlingbestuurders, bestuurslisensies en die padwaardigheid van voertuie.
Die verhoging van kapasiteit in een afdeling kan beteken dat ander afdelings sal moet inboet wat die aantal voertuie en bestuurders sonder wettige lisensies op paaie sal verhoog.
Tans word plaaslike lisensiekantore weens die Covid-19-inperkingsregulasies toegelaat om ‘n beperkte hoeveelheid mense per dag te hanteer. In Krugersdorp mag slegs 24 mense per dag ‘n toets vir ‘n leerlinglisensie aflê.
Covid-19 het ‘n groot impak op die agterstand van hernuwing van motor- en bestuurderslisensies en daarom verwelkom die party die verdere opening van die ekonomie.
Die VF Plus sal die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Lebogang Maile, versoek om plaaslike rade se lisensie-kantoorure te verleng, alle beskikbare personeel te gebruik en om lisensiekantore op Saterdae vir die publiek te open. Provinsiale kantore is sewe dae ‘n week oop.