Die jongste uitgebreide werkloosheidsyfer van 43%, die hoogste wat Suid-Afrika ooit beleef het, bewys dat die land lank reeds met ‘n werkloosheidspandemie te make het, wat bloot deur die Covid-19-pandemie vererger is.
Die werkloosheidsyfer kan nie met die tweede kwartaal se syfer vergelyk word nie, aangesien dit weens die nasionale inperking skeefgetrek is.
Die werkloosheidskoers styg geleidelik kwartaal na kwartaal vanaf 29,1% in die laaste kwartaal van 2019 tot 30,1% in die eerste kwartaal van 2020 tot waar ons nou ‘n rekordkoers van 30,8% sien. Die uitgebreide werkloosheidskoers van 43,1%, wat ontmoedigde werksoekers insluit, is uiters kommerwekkend.
Dit beteken dat bykans die helfte van die werkmag in Suid-Afrika werkloos is. Die regering se beperkende arbeidswetgewing en sy bemoeidheid met kosmetiese transformasie en sosiale ingenieurswese kom die land duur te staan.
2,2 miljoen werkgeleendhede het verlore gegaan in die privaatsektor in die afgelope tydperk. Die privaatsektor gaan gebuk onder geweldige druk waartoe die regering die meeste bydra.
Indien die grootste werkskepper in die land nie vryelik toegelaat word om onder gunstige ekonomiese omstandighede werk te skep nie, sal die werkloosheidskoers aanhou toeneem en daarmee saam gepaargaande sosio-ekonomiese probleme, soos armoede, misdaad, drank- en dwelmmisbruik.
Die regering luister nie na goeie raad nie en verhinder die privaatsektor om werkgeleenthede te skep. Die regerende party word deur sy ideologie en alliansievennote, insluitende vakbonde, gyselaar gehou. Ideologie is nie veronderstel om voor die belange van Suid-Afrikaners gestel te word nie.