Die bedanking van die Noord-Kaapse LUR vir gesondheid, Maruping Lekwene, bevestig wat die VF Plus en die ouditeur-generaal (OG) reeds lankal uitgewys het: Die departement is in totale administratiewe, finansiële en morele verval.
Die mees onlangse verslae van die OG en die gesondheidsombud toon dat die provinsiale gesondheidstelsel onder politieke en administratiewe wanbestuur ineengestort het.
In die provinsiale departement van gesondheid se vierde agtereenvolgende gekwalifiseerde oudit, het die OG onder meer bevind dat:
• Onreëlmatige uitgawes van meer as R15,5 miljard nie ondersoek of teruggevorder is nie.
• Bestuur van rekords en interne kontroles feitlik nie bestaan nie.
• Verskeie infrastruktuurprojekte onvoltooid, verkeerd bestuur of oorbetaal is.
• Die departement se leierskap geen stappe geneem het om bevindings reg te stel nie.
Die omvang van finansiële wanbestuur is só groot dat dit nou duidelik is dat die departement nie meer in staat is om sy grondwetlike pligte na te kom nie.
Die gesondheidsombud se 2025-verslag oor die Noord-Kaapse Geestesgesondheidhospitaal en die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal is selfs meer ontstellend en bevind dat:
• Pasiënte aan onmenslike toestande blootgestel is.
• Voorkombare sterftes weens nalatigheid en swak bestuur plaasgevind het.
• Die departement se toesigstrukture totaal gefaal het.
• Die gesondheidstelsel in die provinsie ’n “geïnstitusionaliseerde mislukking” geword het.
Hierdie is ’n direkte gevolg van politieke nalatigheid en ’n gebrek aan aanspreeklikheid op die hoogste vlak.
Die bedanking van die LUR kan politieke druk verlig, maar dit herstel nie die hospitale, bring nie dissipline terug en laat nie die pasiënte herleef wat weens hierdie wanbestuur gesterf het nie. Hierdie is nie net administratiewe mislukkings nie, dit is morele bankrotskap binne die departement.
Die VF Plus beklemtoon dat die bedanking van die LUR nie as ’n oplossing beskou kan word nie, maar eerder as bewys dat die departement totaal wanfunksioneel en onregeerbaar geword het.
Die departement van gesondheid in die Noord-Kaap moet onmiddellik onder administrasie geplaas word ingevolge artikel 100 van die Grondwet.
Die VF Plus versoek die nasionale regering dat:
• Die nasionale departement van gesondheid en die nasionale tesourie die finansiële en bestuursbeheer oorneem.
• ’n Forensiese oudit oor alle kontrakte, tenders en infrastruktuurprojekte sedert 2019 gedoen word.
• Die Valke (direktoraat vir voorkeurmisdade) en nasionale vervolgingsgesag (NVG) ondersoek na moontlike strafregtelike oortredings instel, insluitend oortredings van die Openbare Finansiële Bestuurswet en korrupsie.
• Spesiale provinsiale gesondheidsinspeksies uitgevoer word om pasiënte se veiligheid en menswaardigheid te herstel.
Die mense van die Noord-Kaap kan nie langer die prys betaal vir onbevoegdheid en korrupsie nie. Die VF Plus sal aanhou om hierdie saak in die wetgewer en voor die staande komitee op openbare rekeninge (Skoor) te bevorder totdat daar werklike aanspreeklikheid, forensiese ondersoeke en strafregtelike gevolge is.
Die werklike toets vir leierskap is aanspreeklikheid en regverdigheid. Die party sal aanhou druk uitoefen vir volledige deursigtigheid, strafregtelike vervolging van skuldiges en die plasing van die departement onder administrasie om te voorkom dat verdere lewens verlore gaan.


