Die VF Plus in Gauteng voel sterk dat die uitbreek van geweld in Gauteng se skole die oorsaak is van ‘n LUR wat vir homself ‘n politieke naam wil maak en ook inmeng by skole se werksaamhede soos byvoorbeeld die afskaffing van gedragskodes.
Laasgenoemde het nou die gevolg dat geweld die afgelope tyd uitgebreek het by die Norkem Park High School in Kemptonpark. Leerlinge het twee onderwysers aangeval terwyl die LUR op die skool se perseel was. Intussen het LUR Lesufi die skool weer die afgelope Saterdag besoek en aan ouers genoem dat kinders se dissipline in die hande van die ouers lê.
Die VF Plus se LPW in die Gauteng Wetgewer, mnr. Philip van Staden, het in reaksie op Lesufi se uitsprake die naweek gesê dat dit ironies is dat die LUR nou praat van dissipline – dit terwyl hy beoog om gedragskodes by skole in Gauteng af te skaf.
“Die VF Plus het reeds ‘n jaar terug vir Lesufi gewaarsku om nie in te meng by skole se gedragskodes nie en dat gedragskodes daar is om ‘n geordende samelewing te vestig wat onderhewig is aan reëls en regulasies. Die VF Plus is van mening dat gedragskodes kinders leer om van jongs af respek vir hulself en hul medemense te hê, om reëls en regulasies te eerbiedig om sodoende wet en orde in ‘n samelewing te handhaaf.
“Die VF Plus het die LUR van onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, verlede jaar reeds gewaarsku dat indien gedragskodes by skole afgeskaf sal word, leerlinge heeltemal sal hand uit ruk en tot gevolg gaan hê dat onvolwassenes volwassenes gaan hiet en gebied. Nou sit ons met die probleem dat leerlinge mekaar en onderwysers geweldadig aanval. Leerlinge kom nou met vuurwapens na skole om in geweld op mekaar te gebruik.
“Die VF Plus voel baie sterk dat opvoeding by die huis moet plaasvind maar reëls en regulasies moet dan ook in die skole toegepas word.
“Jy kan ‘n kind tuis goed opvoed soos jy wil maar sodra hy/sy in ‘n omgewing kom, soos skole, waar geen reëls en regulasies deur middel van gedragskodes bestaan nie, gaan dit die kind uitlok om alles wat hy by die huis geleer het te vergeet en te doen wat die meerderheid doen.
“Skole speel ‘n integrale deel van ‘n kind se opvoeding aangesien ‘n kind tussen sewe en agt ure per dag op skool spandeer. Net soos ouers tuis het skole ook ‘n rol om in ‘n kind se opvoeding te speel. Sonder gedragskodes gaan chaos uitbreek, soos wat die afgelope tyd by die Norkem Park High School in Kemptonpark gebeur het en gaan dit tot gevolg hê dat ‘n siek samelewing vir die toekoms gekweek gaan word,” het Van Staden gesê.
Tel: 0840154722 of 011-498 5477 / 012-772 4410
epos: Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za