‘n Sorgsame regering moet toesien dat enige ontwikkeling se primêre doel moet wees om die provinsie se ekonomie en sy burgers te bevoordeel eerder as buitelandse ondernemers.
Wat landbou aanbetref, het boere wat erge verliese gely het met natuurrampe soos veldbrande, swart ryp, oorstromings, droogte en die onlangse Afrika-weermagwurm-uitbraak, nie die nodige ondersteuning vanaf die provinsie ontvang nie.
Uitdagings soos onbegaanbare paaie belemmer marktoegang wat tot verdere verliese lei.
Dit is VF Plus se siening dat landbou, bosbou en visserye belangrike sektore is wat werk skep, armoede verlig, bydra tot ekonomiese groei en voedselsekerheid vir alle gemeenskappe in die provinsie.
In die gesondheidsektor gaan die provinsie se hospitaalinfrastruktuur daagliks en merkbaar agteruit. Probleme soos watertekorte en ‘n gebrek aan genoeg personeel is algemeen.
Die gesondheidsdepartement het die ambulansvloot uitgebrei om verligting te bied aan 320 klinieke wat nie deurlopend operasioneel is nie. Steeds is reaksietye stadig en word lewens in gevaar gestel weens swak padtoestande wat die spoedige en veilige vervoer van pasiënte belemmer.
Daarbenewens is daar ‘n aansienlike agterstand in chirurgiese prosedures, met sommige pasiënte wat ses maande moet wag vir hulp.
Alhoewel die opening van twee nuwe laerskole in die Sekhukhune-distrik prysenswaardig is, spreek dit nie die dringende opvoedkundige behoeftes van die gemeenskap aan nie.
Baie leerders is steeds nie in skole geplaas nie veral in gebiede soos Polokwane (Pietersburg) en Mokopane (Potgietersrus). Laerskool Ketlane in Louis Trichardt is stampvol met meer as ‘n honderd leerders in ’n klas.
Wat spesiale ekonomiese sones aanbetref moet ‘n balans gevind word tussen Limpopo se natuurlike habitat en volhoubare, suksesvolle werkskepping.
Soos elders is werkloosheid ‘n kritieke uitdaging. Teen die einde van 2024 was Limpopo se werkloosheidskoers 31,9%.
Die ontwikkeling van die Musina-Makhado-spesiale ekonomiese sone (MMSES) is ‘n omstrede ontwikkelingsprojek in ‘n ekologies sensitiewe deel van die provinsie en wys hoe maklik foute in hierdie verband gemaak word.
Daar is ernstige kommer oor die potensiële vernietiging van 120 000 hektaar natuurlike plantegroei weens steenkoolmyne en ander ontwikkelings in dié sone.
In hierdie droëer klimaat neem dit die natuur eerder eeue as dekades om te herstel.
Die hele projek is van Chinese maatskappye afhanklik wat in metaalverwerking belê. Alhoewel ontwikkeling belangrik is, moet inwoners veral daarby baat vind.


