fbpx
Vryheidsfront Plus

Lesufi se desperate water- en kragskuld-afskrywings is verkiesingsfoefie wat gaan boemerang

Die VF Plus glo die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, se desperate verkiesingsfoefie om alle townships, informele nedersettings en hostelle se agterstallige water- en kragrekeninge te laat afskryf, sal boemerang met die gevolglike ondermyning van die ekonomiese ontwikkeling van daardie gebiede.

Hierdie plan dui ook aan dat Lesufi ideologies naby aan die EFF staan en Marxistiese neigings het.

Lesufi se populistiese oplossing van 'n redelike komplekse probleem getuig ook van sy desperate opportunisme om 'n haas uit die hoek te trek om die 2024-verkiesing in Gauteng te wen.

Die ANC het in Gauteng net 36% van stemme op hom verenig tydens die 2021-plaaslike regeringsverkiesing en peilings dui daarop dat die ANC sterk steun verloor in die stedelike gebiede.

Daarom probeer Lesufi nou fokus op die armer en landelike gebiede om 'n meerderheid steun te werf vir die 2024-verkiesing.

Die feit is egter dat indien hierdie skuldafskrywingsplan 'n werklikheid word, die skuld net verskuif sal word na die Gautengse middelklas, waarvan 'n groot hoeveelheid uit swart kiesers bestaan en wat ironies ook dié kiesers meer van die ANC sal vervreem.

Lesufi se grootste probleem is dat sy kortsigtige plan die armes wat hy kwansuis wil help, verder gaan verarm omdat dit enige medium- na langtermyn-ontwikkelingsplanne van fondse gaan beroof.

Die Gautengse wetgewer het redelik onlangs die Gauteng Township Ontwikkelingswet aanvaar ingevolge waarvan 'n ontwikkelingsraamwerk daargestel word om werksgeleenthede in die townships en informele nedersettings te skep.

Vir hierdie wet om te werk moet fondse beskikbaar gestel word vir ontwikkeling en werkskepping.

Die verskuiwing van miljarde rande se skuld na die middelklas sal 'n wesenlike negatiewe effek hê op die belastingbasis en dus ook enige ontwikkelingsfondse.

Alhoewel die privaat sektor ook 'n rol sal speel in terme van die Gauteng Township Ontwikkelingswet, sal dit al hoe moeiliker word indien die middelklas se belastinglas groter raak en sy koopkrag taan.

Mens kan dié kommer optel in die reaksie op Lesufi se aankondiging van sy plan op Twitter. Talle mense, van wie baie swart is, spreek hulle duidelik teen die plan uit en wil weet waarom hulle die las van nie-betalers moet dra.

Daar word ook verder gevra waarom net Gauteng se townships en informele nedersettings die voordeel sal kry wat natuurlik die deur oopmaak vir eise dat dit landwyd moet gebeur. Dit sal katastrofiese gevolge vir Eskom en die land se ekonomie inhou.

Hierdie Gauteng Township Ontwikkelingswet se oogmerke sal verder wesenlik deur die afskrywing van skuld ondermyn word aangesien die kultuur van nie-betaling van dienste, wat deur die ANC pre-1994 geskep is, bloot gevoed en verdiep sal word.

In hierdie omstandighede kan die broodnodige kultuur van entrepreneurskap, selfwerksaamheid en produktiwiteit nie gekweek word nie.

Die ANC in Gauteng het vir bykans 30 jaar nie aandag gegee aan die armes in townships en informele nedersettings nie. Dié party se fokus was eerder op die rasse-integrasie van middelklas-buurte en die uitdeel van onwettige tenders.

Die skielike fokus op townships en informele nedersettings is nie omdat die ANC omgee vir die armes nie, maar omdat hy desperaat is om Gauteng te behou tydens die 2024-verkiesing.

Die VF Plus sal voortgaan met sy "STOP LESUFI"-veldtog om te sorg dat die ANC onder 30% steun kry en om as die kernparty in bestaande koalisies in plaaslike regering die spilpunt te vorm om 'n koalisie-regering in Gauteng daar te stel.

Navrae: 082 391 3117

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.